
Mnr. Nama Goabab
DIE staat is gister verlof toegestaan om teen ’n beslissing van Regter Marlenne Tommasi te appelleer. Redes vir die toestaan van die appèl sal op ‘n latere tydstip bekend gemaak word.
Die beslissing volg ná sy die voormalige sekretaris van die Nasionale Vergadering (NV), mnr. Simon Nama Goabab, en sy kollega mnr. Abraham John George, die voormalige hoofrekenmeester verbonde aan die NV, op die hoofklagte van korrupsie vrygespreek het.
Regter Tommasi het in Augustus bevind dat die bepalings van die Teenkorrupsiewet nie op die twee mans se gedrag van toepassing is nie.
Mnre. Goabab en George hoef slegs op klagte van bedrog, diefstal en die onregmatige gebruik van ‘n staatsvoertuig te antwoord, het Regter Tomassi bevind.
Die klagte hou verband met die huur van private voertuie van Budget Rent a Car gedurende 2007 terwyl beide mans by die NV in diens was. Die staat beweer dat mnr. Goabab ten tyde van die huur van die voertuie ‘n motortoelaag van die staat ontvang het en hy dus nie geregtig was om die voertuie te huur nie. Mnr. George sou glo in samewerking met mnr. Goabab opgetree het om die onwettige transaksies te fasiliteer.
Mnr. Orben Sibeya het tydens die aansoek om verlof tot appèl aangevoer dat die staat oortuig is dat die Hooggeregshof sal bevind dat die beskuldigdes se optrede wel deur die Teenkorrupsiewet gekriminaliseer word.
Dit maak dus nie sin dat hulle op die alternatiewe klag van bedrog en nie meer op die hoofklag van korrupsie moet antwoord nie. Volgens die staat sal so ‘n benadering tot uiterste se verwarring lei aangesien beide die hoof- en alternatiewe klagte in noue verband tot mekaar staan.
Mnr. Sibeya het verder betoog dat ’n redelike kans op sukses bestaan dat ‘n appèlhof tot ‘n ander vertolking van die toepaslike wetgewing en regsbeginsels sal kom.
Die saak is tot 17 Maart aanstaande jaar uitgestel in afwagting van die appèlverhoor se uitslag.