
Mnr. Leopold Shaimemanya, wyle me. Selma Mirjam Shaimemanya se pa.
DIE veroordeelde Lazarus Shaduka sal vandag weet wat sy lot gaan wees nadat ’n emosionele betoog in die Hoërhof vir verswaring van sy straf gevoer is.
“Ek het my geliefde dogter verloor en as die vader van die oorledene is ek steeds getraumatiseer deur haar dood.” So het ’n emosionele mnr. Leopold Shaimemanya Woensdag in die Hoërhof getuig tydens die vonnisopleggingsfase van Shaduka se verhoor.
Shaduka is Maandag deur Regter Kato van Niekerk aan die strafbare manslag van sy vrou, me. Selma Mirjam Shaimemanya, in 2008 en op ’n verdere klag van poging tot regsverydeling skuldig bevind.
Die pa is deur die staat as getuie geroep om strafverswarende feite voor die hof te plaas.
“Die negatiewe impak van Selma se dood op my en my familie is onmeetbaar. Haar dood was geen normale ongeluk nie. Dit is onmoontlik om die hoofstuk af te sluit as jy nog nie seker is presies hoe en waarom jou dogter so tragies gesterf het nie. My familie sal nooit weer dieselfde wees nie. My kinders het hul suster verloor en dit is ’n nimmereindigende poging vir my om haar onnatuurlike dood aan hulle te verduidelik,” het mnr. Shaimemanya getuig.
Die sigbaar ontstelde pa het uit ’n brief voorgelees: “Die beskuldigde het geen berou getoon nie en sy gedrag strook nie met die weergawe dat dit wel ’n ongeluk was nie. Ek vind dit moeilik om te aanvaar dat die beskuldigde, na alles wat gebeur het, steeds nie aan my geskryf het indien dit ’n probleem sou wees om my te bel nie.
“Ek het deur hierdie twee jaar gegaan in die hoop dat die beskuldigde die menslikheid sou hê om aan my te verduidelik wat gebeur het. Tot dusver het ek geen verduideliking ontvang nie – nie eers ’n eenvoudige ‘ek’s jammer’ nie.
“My dogter het talle kere met my gekommunikeer deur oproepe en SMS’e waarin sy haar vrees vir haar lewe vanweë doodsdreigemente van die beskuldigde bekend gemaak het. Dit het ’n punt bereik waar ek vir haar ander verblyf gereël het. En ek het inderdaad vir haar ’n ander woning gevind. Maar net toe sy na die nuwe woning kon trek, het sy daarteen besluit weens die liefde wat sy vir die beskuldigde gekoester het.
“Vandag vra ek myself of ek haar nie kon ompraat nie. Dit maak my hartseer soveel erger om te dink dat ek miskien iets meer vir haar kon doen. Maar dan het ek ook verstaan dat sy haar familie bymekaar wou hou.”
Ter afsluiting het mnr. Shaimemanya gesê: “My dogter was in ’n moeilike huwelik – met fisiese geweld en voortdurende doodsdreigemente. ’n Ongeluk of nie – die beskuldigde verdien ’n swaarder vonnis. Ek vra die hof om die maksimum vonnis op te lê. Miskien dan sal hy berou hê vir hierdie verlies.”
Shaduka het ter strafversagting getuig dat hy twee kinders het. Hy het die oorledene se dogtertjie laas met sy vrou se dood gesien. Volgens Shaduka onderhou hy naas sy twee dogters ook ses ander kinders van sy oorlede suster en broer. Sy pa is verlede jaar oorlede en Shaduka kon weens die feit dat hy in aanhouding was nie die begrafnis bywoon nie. Hy het gesê dat hy voor sy inhegtenisname drie suksesvolle besighede bedryf het.
Shaduka het aangebied om ’n boete te betaal en selfs gemeenskapsdiens te verrig. Volgens hom was hy ’n produktiewe lid van die gemeenskap wat voorheen aan 80 mense werk verskaf het.
Op ’n vraag van die staatsaanklaer, me. Belinda Wantenaar, oor hoekom hy nie sy skoonfamilie om vergifnis genader het nie, het Shaduka gesê hy het nie ’n kans gehad om verskoning aan te bied nie omdat hy in aanhouding was.
Ná afloop van sy getuienis het adv. Albert Strydom betoog dat sy kliënt ’n boete opgelê moet word. Me. Wantenaar het namens die staat betoog dat hy weens die erns van die misdryf direk tronk toe gestuur moet word.
Regter Van Niekerk het beide die staat en Shaduka daarop gewys dat haar skuldigbevinding op blote nalatigheid gebaseer was en dat daar geen bewyse van vorige gesinsgeweld voor die hof is nie.
Sy het die saak tot vandag vir vonnisoplegging uitgestel.