24.5.2012
 Argiewe:

Vandag se Spotprent


Gene Travers

Market indicators


23 Mei 2012

30 Bruidspare gekies


Advertensie
Advertensie

Ons Argiewe

16.02.12

Graf nooit toegegooi

15.02.12

Ongeluk eis bekende in perdrykringe

13.02.12

KK oor vingers getik

14.02.12

Drie fetusse binne ’n week

16.02.12

Kuberkrakers steel miljoene

31.08.2010

Shaduka kry boete vir strafbare manslag

© Republikein
DIE voormalige hoofbestuurder van eiendomme van die Windhoek munisipaliteit en vooraanstaande besigheidsman, Lazarus Shaduka, is gister in die Hoërhof in Windhoek beboet vir die strafbare manslag op sy vrou, me. Selma Shaimemanya, gedurende Julie 2008.

Regter Kato van Niekerk het Shaduka op die klag van strafbare mansslag tot N$25 000 of een jaar tronkstraf gevonnis. Shaduka is op ‘n verdere klag van poging tot regsverydeling met N$2 000 of twee maande tronkstraf beboet en is vir tien jaar ongeskik verklaar om ‘n vuurwapen te besit.

Die staat het Shaduka oorspronklik van moord aangekla, maar hy is later deur Regter Van Niekerk aan strafbare manslag skuldig bevind. Sy het bevind dat Shaduka bloot weens nalatigheid sy vrou se dood veroorsaak het.

Volgens Regter Van Niekerk kon sy nie bevind dat die voorval voorafgegaan is deur geweld soos in die Wet op Gesinsgeweld voorgeskryf word nie. Die klag van poging tot regsverydeling hou verband met Shaduka wat die dag na die voorval ammunisie wou afspoel in die toilette van die hospitaal waar hy opgeneem was.

In haar vonnisrede het Reger Van Niekerk gesê dat Shaduka haar nie tydens vonnisverrigtinge beïndruk het nie en dat hy slegs getuig het oor hoe hy deur die voorval geraak is sonder om die impak van die insident op die oorledene se familie, te waardeer.

“Die onus was op die beskuldigde om die oorledene se familie te nader en te verduidelik wat gebeur het, siende hy die enigste persoon was wat ten tye van die voorval daar was en die vuurwapen op ‘n nalatige wyse laat afgaan het. Berou moet eerlik en opreg wees. Die beskuldigde het geen berou getoon nie. Eers in ‘n baie laat stadium, toe hy van die getuiebank verskoon was, het dit by hom opgekom om verskoning oor die voorval by die familie en die gemeenskap te vra,” het Regter Van Niekerk opgemerk.

Sy het verder gesê dat Shaduka nietemin ‘n produktiewe lid van die gemeenskap was ten tye van die voorval en dat sy nie kan sien wat die doel sal wees om hom tot verdere effektiewe gevangenisstraf te vonnis nie.

Volgens die Regter sal die belang van die beskuldigde en die gemeenskap, met inagneming van die tipe misdaad waaraan hy skuldig bevind is, die beste gedien word deur die oplegging van ‘n swaar boete.

“Die beskuldigde is aan growwe nalatigheid skuldig bevind en die tipe misdryf vereis ‘n vonnis wat hoofsaaklik as afskrikmiddel sal dien deur ‘n swaar boete op te lê en die beskuldigde die geleentheid te bied om hom te verbeter,” het Regter Van Niekerk bevind.

Adv. Albert Strydom het Shaduka tydens die verhoor verteenwoordig terwyl me. Belinda Wantenaar die staat se saak behartig het.

‘n Sigbaar verligte Shaduka is na afloop van die hofverrigtinge deur sy tronkbewaarders gelukgewens waarna hy die totale bedrag van N$27 000 in kontant by die griffier van die Hoërhof betaal het om vrygelaat te word.

Shaduka was vir die afgelope twee jaar in aanhouding.

Ontstoke lede van me. Shaimemanya se familie het hul teleurstelling met die vonnis uitgespreek. Me. Elma Dienda van die Katolieke Kerk se Vrouebeweging, het ook die verrigtinge bygewoon. Sy het buite die hof gesê dat die Wet op Gesinsgeweld ‘n grap is en dat daarmee weggedoen moet word aangesien dit slagoffers van geweld nie behoorlik beskerm nie.

Volgens me. Dienda moet mishandelde vroue so gou as moontlik ontsnap uit sulke verhoudings omdat die reg hulle nie beskerm nie.

“‘n Vonnis soos in hierdie saak spoor mans aan om hul vroue te vermoor,” het me. Dienda gesê.