
Me. Debbie Louw
DIE Windhoekse reisagentskap Welwitschia Travel moet in die streekhof verduidelik waarom dit meer as dubbel die aantal afslagkaartjies aan kliënte uitgereik het as waarvoor dit by die nasionale lugredery Air Namibia gekwalifiseer het.
Die agentskap het in 2006 sowat N$5,3 miljoen se inkomste vir Air Namibia geïn deur kaartjieverkope en het daarom vir 23 afslagkaartjies in aanmerking gekom. Sewe van die kaartjies was gratis en die res teen 75 persent afslag.
Welwitschia Travel, die eienaar van die reisagentskap, me. Debbie Louw, en ʼn voormalige verkoopspersoon van Air Namibia, me. Elizabeth Shigwedha, staan nou op 73 aanklagte van bedrog tereg nadat die lugredery na bewering met amper ʼn half miljoen Namibiese dollar bedrieg is.
“Die reisagentskap het sewe gratis vlugte en 16 vlugte ontvang wat 75 persent afgemerk is, omdat hul kliënte deur ons gevlieg het,” het me. Liesl Smith, vroeër van Air Namibia, gister in die hof getuig.
Volgens haar sal ʼn agentskap N$52 miljoen vir Air Namibia moet verdien indien dit 70 afslagkaartjies wil bekom.
Daar word beweer dat aan 50 kliënte van Welwitschia Travel afslagkaartjies gegee is, wat glo N$380 310 beloop. Vier kliënte se kaartjies is van ekonomiese klas tot besigheidsklas opgegradeer, wat na bewering ʼn koste van N$68 000 beloop. Nog 14 kliënte het kaartjies ontvang wat glo 75 persent afgemerk is, maar wat na 100 persent afslag verander is. Dit het amper N$17 000 beloop.
Die laaste vier kaartjies se geld is van die Universiteit van Namibië (Unam) verkry, onder die voorwendsel dat Air Namibia die bedrae gehef het. Na bewering was die bedrae met amper N$42 500 verhoog.
Volgens die klagstaat was Welwitschia Travel nie op die 50 kaartjies geregtig nie, omdat die onderneming reeds by die sewe gratis kaartjies gebaat het.
“Die vier kaartjies wat opgegradeer is, is met ʼn magtigingsnommer gedoen wat reeds in November 2005 aan die reisagentskap uitgereik is,” lui die klagstaat.
Die reisagentskap het ook geen gesag om kaartjies wat 75 persent goedkoper is, op te gradeer na kaartjies wat verniet is nie en ook nie die reg om vliegkaartjies duurder te maak as wat dit is nie.
“Indien Air Namibia nie bewus is dat van die passasiers verniet vlieg nie, ly die onderneming verliese,” het Smith gesê.
Sy het ook getuig dat opgraderings met oordeelkundigheid uitgevoer word. “Gereelde passasiers, beleggers en belangrike kliënte kan opgegradeer word na besigheidsklas, maar vorms moet ingevul en onderteken word deur die bestuurder. Indien hy nie beskikbaar is nie, moet die besturende direkteur dit goedkeur,” het sy gesê.
“’n Magtigingsnommer is nodig om kaartjies op te gradeer, wat deur die lugredery en die reisagentskap gedoen kan word. Indien die nommer onthou word, kan dit weer vir ’n nuwe vlug ingelees word,” het Smith getuig.
Welwitschia en Louw word deur adv. Louis Botha verteenwoordig en Shigwedha word deur mnr. Jan Wessels verteenwoordig. Die saak duur vandag voort.