18.08.2010 Regter verklaar verbod onwettig
 Mnr. Norman Tjombe (tweede van regs) wat namens die aansoekers opgetree het saam met adv. Gerson Hinda (derde van links) wat namens die verweerders opgetree het.
DIE polisieverbod op betogings en byeenkomste in Namibië wat tydens die jaarlikse spitsberaad van die Suider-Afrikaanse Ontwikkellingsgemeenskap (SADC) van Maandag tot gister in Windhoek geplaas was, is ongrondwetlik en gevolglik ongeldig.
Die beslissing sal as tussentydse bevel dien tot die terugvoeringsdatum binne 30 dae.
Die verdere versoek van die Forum van die Nie-regeringsorganisasies, die Nangof-trust, om Artikel 2 van die proklamasie op openbare byeenkomste, oftewel AG 23 van 1989, as ongrondwetlik te verklaar, is egter verwerp.
Regter Nate Ndauendapo het egter in sy beslissing beklemtoon dat aansoekers drie dae voor ‘n betoging kennis moet gee van hul beplande optog. Hy sal op ‘n latere stadium redes vir sy beslissing gee.
Sommige belanghebbendes het gister na afloop van die hofbeslissing opgemerk teen die tyd wat die drie dae kennisgewingtydperk verstryk het, die staat- en regeringshoofde van SADC reeds terug in hul lande sal wees.
Mnr. Norman Tjombe, die regsverteenwoordigers van die Nangof-trust, het gesê dat die drie dae kennis wat sy klante moet gee, nie nou relevant is nie aangesien die SADC-leiers terug in hul lande sal wees teen die tyd wat die nie-regeringsorganisasies hul optog mag hou.
Adv. Gerson Hinda wat namens die verweerders – die Inspekteur-generaal van die Namibiese polisie, die hoof van die stadspolisie en die nooddiensbestuur, die munisipaliteit van Windhoek en die regering van Namibië - verskyn het, het die woord beperking verkies bo verbod op betogings en byeenkomste.
Hy het aanvanklik gesê dat die besluit om die uitoefening van die reg om te betoog te beperk, ’n bona fide besluit was en dat dit op waardige redes gegrond was.
Hy het gesê die polisie voorsien sekuriteit by al die plekke waar die SADC-vergaderings plaasvind en terselfdertyd moet hulle voortgaan met hul grondwetlike en statutêre plig om sekuriteit in die land te verseker wat die landsgrens insluit. Die polisie moet enige bedreiging aan interne sekuriteit en dié van die afvaardigings afweer.
Hy het gesê die polisie is reeds dun gesaai en het nie voldoende mannekrag om wet en orde tydens betogings te handhaaf nie.
Adv. Hinda het betoog dat die aansoekers nie die nodige kennisgewing kragtens die proklamasie gegee het nie. Hy het egter toegegee dat die beperking op betogings inbreek maak op die regte verskans in Artikel 21 (1) (a) en (d) van die Namibiese Grondwet, maar dat dit noodsaaklik was.
“Die beperking van die reg om te betoog is rasionaal gebind tot die Regering se doel,” het hy aangevoer.
Hy het ook toegegee dat die Namibiese polisie nie by magte is om ‘n verbod te plaas op betogings en openbare byeenkomste nie. Hy het egter beklemtoon dat die Namibiese polisie kragtens die Polisiewet van 1990 opgetree het en nie onder die Proklamasie nie. Hy het ontken dat die Proklamasie ongrondwetlik is.
Hy het beklemtoon dat onderworpe aan die Grondwet al die wette van voor onafhanklikheid, steeds in Namibië van toepassing is tot hulle herroep word deur wette van die Namibiese Parlement.
|