
Regter-president Petrus Damaseb
REGTER-president Petrus Damaseb het aangebied om terug te staan en nie weer op die bank te wees wanneer die verkiesingshofsaak in die Hoërhof aangehoor word nie.
Die griffier van die Hoërhof, me. Elsie Schickerling, het gister ’n verklaring uitgereik waarin die Regter-president die regsverteenwoordigers van die nege opposisiepartye versoek om met hul kliënte hieroor te beraadslaag.
Dit volg nadat die Hooggeregshof gister die appèl van die opposisiepartye teen die uitspraak van Regterpresident Damaseb en Regter Collins Parker in die eerste rondte van die saak, toegestaan het.
Die besluit van die Regter-president volg ná ’n onderonsie wat hy kort ná die Hoërhof se uitspraak met sekere lede van die opposisiepartye gehad het. Die partye het agterna om verskoning gevra en die Regter-president het die verskoning aanvaar.
Nietemin is hy van mening dat ’n vraag oor die wenslikheid van sy sitting op die bank mag ontstaan.
“Al sien ek persoonlik niks wat my deelname behoort te verhinder nie, wil ek graag die aansoekers in die saak die keuse laat. Hulle het die saak ernstig genoeg geag om dit in die Hooggeregshof op appèl as rede aan te voer hoekom die meriete van die saak deur die Hooggeregshof aangehoor moet word en nie na die Hoërhof terugverwys moet word nie.
“U word dus versoek om dringend instruksies van u kliënte te kry en vas te stel of hulle enige besware teen my deelname aan die saak op die meriete het. Indien hulle meen ek moenie, sal ek my onttrek sonder die nodigheid van ’n aansoek in die verband,” het Regter-president Damaseb gesê.