DIE Regter in die saak waar ’n ouer N$2,4 miljoen van ’n skool eis omdat hul nalatigheid tot die beweerde molestering van die gesin se dogtertjie kon lei, het gister in die Hoërhof in belang van die verdediging beslis toe hy ingestem het dat twee spesialisgetuies van Suid-Afrika na die hof geroep mag word.
Dr. Larissa Angela Panieri-Peter en dr. Astrid Berg sal as getuies vir die Deutscher Schulverein optree in die geval van die meisie wat glo in ’n toilethokkie vasgekeer was en vier seuntjies haar na bewering gemolesteer het.
Regter Dave Smuts het gesê hy verwerp die beswaar van die eisers nadat hy die argumente van beide partye aangehoor het. Hy het verlof gegee om die getuies te roep en het bygevoeg dat die koste daaraan deur die verdediging gedra moet word.
Dr. Jűrgen Hoffmann, ’n opvoedkundige sielkundige, het gister getuienis gelewer. Hy was teenwoordig tydens die kruisondervraging van dr. Louise Olivier wat verlede jaar as spesialisgetuie vir die eisers opgetree het. In daardie tyd is die verhouding bespreek wat die kliniese sielkundige, me. Hilda Lösch, met die familie gehad het.
Adv. Theo Barnard wat vir die verdediging optree, het aan Hoffmann gevra wat die invloed sou wees as ’n terapeut met sy pasiënt bevriend raak.
Hoffmann het geantwoord dat ’n terapeut ’n pasiënt moet help om sekere struikelblokke te oorkom. Die aard van die verhouding is dus minder formeel en naderhand sal daar ’n band tussen die twee partye ontwikkel.
Hoe langer die verhouding bestaan, hoe meer subjektief sal die terapeut wees, het Hoffmann gesê.
Barnard het gevra of so ’n verhouding ’n invloed op ’n hofsaak kan hê, waarop Hoffmann na ’n aanhaling van Lösch verwys het: “Ek sal altyd die belang van die kind eerste plaas,” het Lösch glo gesê. Dít, meen Hoffmann, is ’n subjektiewe stelling.
Barnard het destyds aangevoer dat Lösch, wat die gesin se berader was voor die beweerde molestering plaasgevind het, te na aan die familie was om objektiewe getuienis te lewer.