DIE saak waarin ’n 23-jarige man op die moord van die 75-jarige me. Waltraut Hedwig Hanna Volkmann van die Grootfontein omgewing teregstaan, het vroeër die week in die Hoërhof op Oshakati voor Regter Marlene Tommasi begin.
Mnr. Abisai Ndaumbwa word van moord, huisbraak met opset om te roof, asook roof met verswarende omstandighede aangekla.
Ndaumbwa het na bewering op die aand van 9 Junie 2009 by die huis van die oorledene op die plaas Jakkal-Omuramba ingebreek deur ’n venster oop te breek. Binne die huis het hy Volkmann met ’n panga herhaaldelik oor haar kop en liggaam geslaan. Sy het dieselfde aand gesterf.
Daarna het hy glo die huis geplunder en verskeie items van waarde gesteel wat twee messe, ’n skootrekenaar, ’n selfoon, N$320,50 en haar bankkaarte insluit.
Hy het ook Volkmann se Ssangyong Musso motor gesteel en daarin vanaf die toneel gevlugvoordag hy op Otjiwarongo van die voertuig afstand gedoen het.