31.01.2012 Namibiër word in Angola verhoor
DIE saak teen ʼn Namibiese vrou wat glo haar man en twee kinders verlede week in die suide van Angola vermoor het, word deur die Angolese polisie ondersoek.
“Geen nuwe inligting is beskikbaar nie, maar aangesien dit in Angolo plaasgevind het, sal dit daar ondersoek word,” het adjunkkommissaris Agner Agas van die Ohangwenastreek aan Republikein gesê.
Volgens plaaslike beriggewing verlede week het die ma na bewering haar 72-jarige man en haar vyfjarige en tweejarige dogters met ʼn panga doodgekap.
Die egpaar het glo verlede Maandag ʼn uitval gehad, maar dit was opgelos. Toe die gesin egter geslaap het, het die vrou glo die panga gaan haal.
Die familie het op Onawa in die Ohangwenastreek gewoon. Hulle het ook ʼn ander woonplek op Oambunga in die Cuneneprovinsie naby die grens tussen Namibië en Angola gehad waar hulle het wanneer hulle hul landerye in die reënseisoen bewerk het. Die lyke is vir die begrafnisse na Namibië teruggebring.
|