29.07.2010 Moordverhoor: 2 loop vry
 Mnr. Paulus Aaron Willibard skud hier die hand van sy regsverteenwoordiger, mnr. Bradley Basson, nadat hy en sy medebeskuldigde in die saak, mnr. Joseph Hangome, vrygespreek is.
DIE twee beskuldigdes in die Kleine Kuppe-moord, mnre. Paulus Aaron Willibard en Joseph Hangome, is van alle klagte teen hulle kwytgeskeld nadat die Regter in die verhoor bevind het dat ’n redelike hof wat versigtig moet optree, nie daarin sal slaag om hulle skuldig te bevind nie.
Die twee mans, wat elk op drie klagte van moord, die onwettige besit van vuurwapens en ammunisie tereg gestaan het, kon vry uit die hof stap. Hangome is reeds ses jaar verhoorafwagtend in die tronk.
Regter Nate Ndauendapo het gesê die hof is terdeë bewus dat drie mense – Mario de Sousa, sy vrou Magda en Tiaan du Plessis Stoop – op 27 Februarie 2004 in die Kleine Kuppe woonbuurt van Windhoek vermoor is. Tog word Willibard en Hangome as onskuldig geag totdat hul skuld bo redelike twyfel bewys is en in dié spesifieke saak het die staat gefaal om dit te doen.
Die twee mans was van drie moorde, roof met verswarende omstandighede, twee klagte van onwettige besit van vuurwapens en twee klagte van onwettige besit van ammunisie aangekla.
Die Regter het bygevoeg daar is eenvoudig nie getuienis waarop ’n redelike hof wat versigtig optree, die twee mans skuldig kan bevind nie. In die opsig het hy mnr. Bradley Basson, regsverteenwoordiger van Willibard, gelyk gegee.
Dit word aanvaar dat Willibard die Siemens-selfoon wat by die moordtoneel gesteel is, aan Linda Kanime verkoop het. Me. Elidio de Sousa het die selfoon geïdentifiseer as dié wat aan haar oorlede ma behoort het.
Willibard is saam met Hosea Johannes, wat later in ’n skietery met die polisie dood is, by ’n kroeg in Katutura gesien. Hy het Hosea se huis aan die polisie uitgewys en sy oorskot by die polisielykhuis identifiseer.
Hosea was die hoofverdagte by wie die pistool en rewolwer gevind is wat in die moord gebruik is. Omdat wyle Hosea nie getuienis kan lewer om Willibard se verduideliking te weerspreek nie, wou die Regter weet watter gronde die hof sou hê om sy verduideliking bo enige redelike twyfel as vals te verwerp.
“As sy verduideliking redelik waar is, is hy daarop geregtig om ontslaan te word, hoewel sy verduideliking onwaarskynlik mag wees,” het Regter Ndauendapo gesê. Hy het bygevoeg dat Willibard se vereenselwiging met Hosea nie prima facie getuienis van ’n misdryf is nie.
Verder het Regter Ndauendapo saamgestem met die vertoë van mnr. Winnie Christians, regsman vir Hangome, dat daar nie ’n “greintjie van getuienis” teen Hangome is nie.
Regter Ndauendapo het gesê die enigste getuienis teen Hangome was dat die polisie inligting van ’n informant ontvang het dat hy ook by die misdaad betrokke was en iewers op Keetmanshoop wegkruip.
Volgens die Regter is Hangome op 18 Maart by ’n huis in Keetmanshoop aangekeer en het die polisie die betrokke huis deursoek, maar niks is gekry wat hom met die misdaad kon verbind nie. Gevolglik is daar nie ’n “greintjie getuienis” waarop ’n redelike persoon vir Hangome kon skuldig bevind nie.
|