
Natangwe Ngatjizeko
DIE man wat daarvan beskuldig word dat hy kokende water oor sy ma gegooi het voordat hy haar wreedaardig vermoor het, se verhoor word op 3 Mei volgende jaar voortgesit.
Natangwe Ngatjizeko (31) staan in die Hoërhof tereg op ’n klag dat hy sy 58-jarige ma, me. Penny Ipinge, op 17 Desember 2006 vermoor het deur haar eers met kokende water te gooi waarna hy haar 39 keer met twee messe in die gesig, bors en maag gesteek het.
Die nadoodse ondersoek het getoon dat haar longe en lewer geskeur was en dat sy tweede- en derdegraadse brandwonde tydens die aanval opgedoen het. Ngatjizeko staan op ’n verdere klag van roof met verswarende omstandighede tereg ná hy glo sy ma van N$20 sou beroof het.
In vorige verigtinge is Ngatjizeko vir psigiatriese waarneming gestuur ten einde sy geestestoestoestand tydens die grumoord te bepaal. Die verslag sal met sy volgende verskyning aan die hof voorgelê word.
Ngatjizeko ontken skuld op al die klagte en beweer dat hy vanweë geestelike afwyking ten tye van die aanval nie toerekeningsvatbaar was nie. Regter Nate Ndauendapo is op die bank, terwyl mnr. Jan Wessels namens Ngatjizeko optree en me. Constance Moyo die staat se saak behartig. Ngatjizeko is sedert sy arrestasie in 2006 in aanhouding.