2.09.2010 Moedervergifnis teen misdadiger
 Protesgangers omhels die ma van die vermoorde Magdalena Stoffels, me. Magrieta Ihuhua, om haar sterkte toe te wens met die beproewende tydperk waardeur sy en haar familie gegaan het.
DIE ma van die vermoorde Magdalena Stoffels, me. Magrieta Ihuhua, het voor die hof waar Junias Phillipus verskyn het, gesê sy het hom reeds vergewe.
Die moord en verkragting van die 16-jarige skoolmeisie het ’n opskudding in Namibië veroorsaak en andermaal die kollig op geweld teen vroue en kinders geplaas.
Me. Ihuhua het voor die hof gesê die lot van Phillipus is nou in die hande van die Allerhoogste en die howe van die land. Met ’n brief van die President van Namibië in haar hand het sy gesê beloftes is aan haar gemaak en sy sal graag wil sien dat geregtigheid so vinnig moontlik geskied.
“Ek sal hierdie brief gaan teruggee vir die President as die beskuldigde vrygelaat word. Die moord van my dogter mag nie onder die mat ingevee word nie.”
Phillipus het aan die einde van Julie vanjaar die eerste keer in die hof verskyn, maar is nie gevra om te pleit nie. Die saak is toe vir verdere ondersoek uitgestel en hy is gelas om in aanhouding te bly.
Met sy tweede verskyning gister het Phillipus onder streng bewaking van die polisie in die hof verskyn terwyl aksiegroepe teen geweld buite die hof in die straat aan ’n protesaksie deelgeneem het.
Tydens sy eerste verskyning het duisende woedende mense buite die hof saamgedrom en geëis dat die beskuldigde aan hulle uitgelewer moet word.
Die verkeersafdeling van die Windhoekse stadspolisie het die straat voor die hofgebou afgesper en lede van die Namibiese polisie het ’n ogie oor die groepie protesmakers gehou om te verhoed dat geweld uitbreek. Die protesaksie was egter vreedsaam en die mense het vinnig uitmekaar gegaan toe hulle ingelig is dat die beskuldigde reeds verskyn en borg nie aan hom toegestaan is nie.
Die mense het na die protesaksie die ma en pa van die vermoorde skoolmeisie omhels en sterkte toegewens met die beproewende tyd waardeur hulle die afgelope maand gegaan het.
Geen opsie van borg is aan Phillipus gestel toe hy gister sy tweede verskyning in die hof gemaak het nie. Die landdros het die saak tot 15 September uitgestel om die polisie die geleentheid te bied om die saak verder te ondersoek.
Met sy vorige verskyning het die polisie aangedui dat hulle bykomende inligting van ander misdade waarby die beskuldigde moontlik betrokke kan wees, ontvang het. Die aantygings het nie gister in die hof ter sprake gekom nie.
Intussen het die Inspekteurgeneraal van die polisie, lt.genl. Sebastian Ndeitunga, by navraag statistiek oor verkragtings landwyd aan Republikein bekendgemaak.
Altesaam 288 gevalle van verkragting is vanaf Januarie tot einde Julie vanjaar by die polisie aangemeld.
Die meeste gevalle het in die Erongo-streek voorgekom waar 42 vroue verkrag is. In Oshana is 33 gevalle aangemeld; in Omaheke 31; in Omusati 30; in Karas 26; in Kavango 23; in Oshikoto 22; in Hardap 20; in Kunene 18; in Khomas 15; in Ohangwena 13; in Otjozondjupa tien en in Caprivi vyf. Die meeste voorvalle het in Januarie vanjaar plaasgevind.
Volgens die verslag van die polisie was die jongste slagoffer slegs een jaar oud en die oudste 85.
|