
Mnr. Ananias Elago van die ECN
NAMIBIË sal tot môre 14:30 moet wag om te hoor wat die Regters bevind het nadat regspanne van die nege opposisiepartye, die Verkiesingskommissie (ECN) en Swapo gister hul betoë in die jongste verkiesingshofsaak in die Hoërhof afgesluit het.
Adv. Vincent Maleka SC, namens die ECN, het die hof gevra om die opposisiepartye se aansoek om die November 2009 verkiesings ongeldig te verklaar en nuwe verkiesings te beveel, te verwerp.
Een van die redes wat aangevoer is, is dat die regsverteenwoordigers van die opposisiepartye hul hofstukke laat ingedien het. Die Kieswet bepaal dat ’n politieke party binne 30 dae ’n verkiesingsaansoek na die hof moet bring.
Die regsverteenwoordiger van die nege opposisiepartye het om 16:30 op die bepaalde dag by die hof opgedaag en dit by die registrateur ingedien.
Die regspan van die ECN voer aan dat die kantoor van die registrateur reeds om 15:00 in die middae sluit vir sake.
Enige vooraf reëling met die registrateur vir die indiening van hofstukke en die diskresie wat deur die registrateur aan die dag gelê is om die hofstukke te aanvaar, is deur die opposisie se regspan bevraagteken en aangevoer die saak moet reeds op grond van die laat indiening verwerp word.
Die aanvaarbaarheid van die latere insluiting van die verkiesing van die President by die aanvanklike aansoek om die verkiesing vir lede van die Nasionale Vergadering is ook deur die ECN bevraagteken.
“Hierdie aansoek kan nie uit die blokke kom nie,” het adv. Vincent Maleka, die hof gisteroggend meegedeel. Hy wou ook weet wat die opplak van die verkiesingsuitslae al dan nie, se invloed op die vryheid, regverdigheid, deursigtigheid en die politieke wil van die kiesers kon gewees het.
Dit kon ook nie ’n invloed op die finale uitslae gehad het nie. Hy het ook daarop gewys dat binne-agente van opposisiepartye in sommige gevalle die hele duur van die verkiesing gesit en slaap het en in baie gevalle geloop het voor die verifiëring afgehandel is.
Dit was daar en dan die gulde geleentheid om kapsie te maak teen enige vergrype en onreëlmatighede wat onder hulle aandag kon gekom het.
Nie een binne-agent van enige van die opposisiepartye het volgens adv. Maleka ter eniger tyd die verloop van die verkiesingsproses bevraagteken of enige klagtes ingedien nie.
Hy het ook die opposisie se mening dat die stempersentasie onrealisties hoog was, verwerp en gesê daar is geen wetsbepaling wat verbied dat ’n hoë persentasie gehandhaaf kan word nie.
Ná middagete het adv. Ismael Simenya, namens Swapo, wat die tweede respondent in die saak is, al die getuienis van mnre. Gotz en Visser van die ouditeursmaatskappy Binneman & Visser, asook dié van me. Carola Engelbrecht verwerp en gevra dat die hof dit nie in ag moet neem nie.
Mnr. Gotz het ontledings van die verkiesingsuitslae gedoen terwyl mnr. Visser die dokumente waarop afgevaardigdes van opposisiepartye hul hande kon lê en fotostate van kon maak in die kort tyd tot hul beskikking, laat Desember, geouditeer.
Adv. Simenya het aangevoer dat geen agtergrond oor die akademiese kwalifikasies of kundigheid van hierdie sogenaamde deskundiges voor die hof is nie en dat daar nie van die hof verwag kon word om dit blindelings en in goedertrou te aanvaar nie.
Boonop het mnr. Visser nooit die oorspronklike dokumente onder oë gehad nie en bloot op ongewaarmerkte fotostate sy oudit uitgevoer.
Adv. Semenya het ook met ’n draaibal gekom toe hy in sy betoog gesê het die opposisiepartye moes ook Swapo se 54 verkose NV-lede bygevoeg het as respondente tot die saak, want hulle het ’n belang by die saak. In sy repliek het adv. Albert Strydom vir die opposisiepartye, gesê dit is die eerste woord wat hulle van so ’n argument hoor.
Omdat geen verligting van Swapo of die ander politieke partye wat respondente in die saak is, gevra word nie, was hulle nie die skerp aanvalle van die Swapo regspan te wagte nie.
Tog is hy van mening dat die opposisiepartye soveel onreëlmatighede, van die kieserslys, die aanbied van die verkiesings en met die tellery van die stemme bewys het dat hy van mening is hulle het hul saak voldoende gestel.
Adv. Reinhard Tötemeyer het daarop gewys dat die opposisiepartye heeltemal binne die wet opgetree het met die indiening van hul aansoek omdat die registrateur van die hof die aansoek aanvaar het.
Hy meen ook dat die ouditeur, mnr. Visser, nie “deskundige getuienis” gelewer het nie, omdat dit neerkom op ’n mening. Hy het feite gestel wat vir enigiemand duidelik uit die verkiesingsmateriaal moet wees.