24.5.2012
 Argiewe:

Vandag se Spotprent


Gene Travers

Market indicators


23 Mei 2012

30 Bruidspare gekies


Advertensie
Advertensie

Ons Argiewe

16.02.12

Graf nooit toegegooi

15.02.12

Ongeluk eis bekende in perdrykringe

13.02.12

KK oor vingers getik

14.02.12

Drie fetusse binne ’n week

16.02.12

Kuberkrakers steel miljoene

6.09.2010

Kenner getuig namens vroue

Sterilisasiesaak:


Adv. Dave Smuts
DIE saak waarin die Ministerie van Gesondheid en Maatskaplike Dienste gedagvaar word deur drie MIV-positiewe vroue wat beweer dat hulle sonder toestemming gesteriliseer is, is Vrydag in die Hoërhof voortgesit. Die regspan van die eiseresse het Vrydag dr. Matti Kimberg as ’n deskundige getuie geroep.

Dr. Kimberg het getuig dat die sterilisasie van die eerste twee eiseresse onomkeerbaar was. Die sterilisasie van die derde eiseres is wel omkeerbaar, maar vanweë haar gevorderde ouderdom sou hy nie aanbeveel dat sy so ’n operasie ondergaan nie, het dr. Kimberg getuig.

Op ’n vraag van adv. Dave Smuts, SC, of dit normaal is om vroue gedurende hul bevalling toestemmingsvorms vir sterilisasie en keisersnee te laat teken, het dr. Kimberg gesê dit is hoogs onwaarskynlik aangesien ’n vrou in soveel pyn is dat sy nie ’n behoorlike en ingeligte besluit oor sterilisasie kan neem nie.

Dr. Kimberg het egter toegegee dat hy aan die derde eiseres sterilisasie sou aanbeveel vanweë die feit dat sy MIV-positief was. Volgens dr. Kimberg is dit praktyk om ’n keisersnee op MIV-positiewe vroue uit te voer aangesien die kanse van moeder-tot-kind-infeksie kleiner is.

Die derde eiseres is vroeër verlede week deur adv. Esi Schimming-Chase, namens die staat, onder kruisverhoor geneem. Gedurende kruisverhoor het die derde eiseres opnuut bevestig dat sy geen ander taal as Oshiwambo magtig is nie en volgehou dat sy by die Katutura staatshospitaal in die periode vanaf 2002 tot 2007 nooit in haar moedertaal gehelp is nie, ondanks die feit dat sy in 2002 geboorte geskenk het aan ’n baba wat sewe maande na haar bevalling aan MIV-verwante siekte oorlede is. Volgens die eiseres is sy eers na die dood van die baba vir MIV getoets.

“Ek het nooit van MIV geweet tot met die dood van my baba nie . Eers na die kind oorlede was, het ek positief getoets.”

Toe adv. Schimming- Chase van die eiseres wou weet of sy dan nie bewus was van die feit dat sy as MIV-positiewe vrou die siekte aan haar kind wat in 2005 gebore is kon oordra nie, het sy geantwoord:

“Ek was bewus van die moontlikheid dat ek die virus aan die kind kon oordra indien ek natuurlik geboorte sou skenk, ek het egter verkies om dit so te doen, nie om ’n keisersnee te ondergaan soos wel gebeur het nie.”

In vroeër getuienis het die eiseres ontken dat sy ooit geweet het wat ’n keisersnee is. Op ’n vraag van adv. Schimming-Chase of sy bewus was van enige verduidelikings wat in haar gesondheidspaspoort gemaak is rakende verskillende vorms van gesinsbeplanning en voorbehoedmetodes, het die eiseres ontken dat sy ooit voor haar sterilisasie in 2005 van enige vorm van voorbehoeding ingelig is nie.

“Ek is eers in 2007 deur my ondersteuningsgroep bewus gemaak dat MIV deur seksuele kontak oorgedra kan word. Ek het nooit gebruik daarvan nie. Tot vandag toe weet ek hoe ’n kondoom in ’n boksie lyk, maar ek het nog nooit regtig een gesien nie en sal ook nie weet hoe om dit te gebruik nie,” het die eiseres getuig.

Waarnemende Regterpresident Elton Hoff is op die bank. Adv. Smuts word bygestaan deur adv. Natasha Bassingthwaigte, in opdrag van die Regshulpsentrum tree namens die eisers op. Die saak duur vandag voort.