1.09.2010 Karupu hoor vandag oor borg
DIE hoof uitvoerende beampte van Superior Security Services, mnr. Andreas Hainguru Karupu, wat daarvan beskuldig word dat hy ‘n voormalige werknemer vermoor het na ‘n beweerde salarisdispuut, sal vandag hoor of borg aan hom toegestaan word.
Die staat beweer dat mnr. Karupu die oorledene, mnr. Alpheus Kafirovi, wat twee jaar gelede in diens van die maatskappy was, een keer met ‘n pistool geskiet het.
Mnr. Karupu (49) het die afgelope twee dae voor landdros Venessa Stanley verskyn ten einde borg vir sy vrylating te bekom. Die staat opponeer die borgaansoek weens die openbare belang wat die saak glo het.
Die ondersoekbeampte, sersant Simeon Nghilalulwa, het gister getuig dat die ondersoek nog nie afgehandel is nie en dat weens die belangstelling in die saak dit nie in die belang van geregtigheid sal wees dat mnr. Karupu nie borg toegestaan sal word nie.
In kruisverhoor deur mnr. Karupu se regsverteenwoordiger, mnr. James Diedericks, het sers. Nghilalulwa egter toegegee dat die beskuldigde nie met die polisieondersoek sal inmeng nie en dat daar geen risiko is dat hy nie sy verhoor sal bywoon nie. Volgens hom het mnr. Karupu van die begin af saam met die polisie gewerk en self die voorval by die polisie aangemeld.
Op ‘n vraag van landdros Stanley of daar bewyse is om mnr. Karupu se weergawe te weerspreek dat ‘n geweerskoot per ongeluk afgegaan het toe die oorledene en beskuldigde in ‘n stoeigeveg betrokke was, het sers. Nghilalulwa toegegee dat mnr. Karupu se weergawe tot dusver redelik moontlik waar kan wees.
Landdros Stanley sal na verwagting vandag haar beslissing bekendmaak.
Mnr. John Sindano tree namens die staat op.
|