24.5.2012
 Argiewe:

Vandag se Spotprent


Gene Travers

Market indicators


23 Mei 2012

30 Bruidspare gekies


Advertensie
Advertensie

Ons Argiewe

16.02.12

Graf nooit toegegooi

15.02.12

Ongeluk eis bekende in perdrykringe

13.02.12

KK oor vingers getik

14.02.12

Drie fetusse binne ’n week

16.02.12

Kuberkrakers steel miljoene

25.08.2010

Kariko onder kruisverhoor


Ephraim Kariko
DIE man wat daarvan beskuldig word dat hy die eienaar van Die Restaurant, mnr. Awie Brand (58) in 2008 op Walvisbaai vermoor het, het na ’n tweede dag in die getuiebank volgehou dat hy bloot uit noodweer opgetree het na mnr. Brand glo ongevraagde seksuele toenadering sou gesoek het.

Ephraim Kariko (24) staan in die Hoërhof in Windhoek tereg op klagte van moord, roof met verswarende omstandighede en dwarsboming van die gereg.

Kariko het gister geweier om in kruisverhoor te erken dat hy die moord en roof van mnr. Brand vooraf beplan het. Op ’n vraag van die staatsaanklaer, me. Ethel Ndlovu, het Kariko erken dat hy wel die motor van mnr. Brand asook N$800 geneem het, maar ontken dat hy dit gesteel het.

“Na die voorval was ek deurmekaar en het nie geweet wat om te doen nie. Ek het toe die motor en banksakkie met N$800 gevat, want ek het dit nodig gehad,” het Kariko getuig. Oor sy verhouding met mnr. Brand het Kariko gesê: “Die oorledene was ’n goeie vriend en die beste baas wat mens kon hê.”

Hy het verder erken dat hy in 2006 by mnr. Brand werksaam was en dat hy gedurende die tydperk N$3 000 sonder die nodige toestemming van Die Restaurant geneem het.

In vroeëre getuienis het Kariko beweer dat mnr. Brand hom op die aand van die moord glo sou gedreig het dat hy hom by die polisie sal rapporteer oor die voorval wat in 2006 plaasgevind het indien hy nie tot mnr. Brand se toenadering sou instem nie.

Me. Ndlovu het dit aan Kariko gestel dat mnr. Brand nog gelewe het toe hy die liggaam in die stoorkamer van die restaurant gaan versteek het. Hierop het Kariko geantwoord: “Ek het (na die geveg) gesien dat die oorledene neerval en baie swak asemhaal. Ek het toe besef dat hy baie seer gekry het. Na ’n ruk het hy opgehou om asem te haal. Ek het hom toe na die stoorkamer gevat.”

Me. Ndlovu het aan Kariko uitgewys dat sy weergawe in die opsig verskil van dit wat hy gedurende borgverrigtinge in die landdroshof gegee het. Kariko het hierop gesê dat hy sy prokureur in die borgverrigtinge mislei het deur verkeerde instruksies aan hom te gee.

Die saak is tot vandag uitgestel nadat Kariko aansoek gedoen het dat die permanente hoftolk vervang word aangesien hy glo sy die verrigtinge nie na wense tolk nie.

Regter Alfred Siboleka het die aansoek toegestaan en gesê dat weens die ernstige aard van die klagte, dit in belang van geregtigheid sal wees om die dienste van ’n ander Otjiherero-tolk te bekom.

Mnr. Jan Wessels tree namens Kariko op. Kariko is op hierdie saak vry op borg hoewel hy vir ’n ander saak van motordiefstal in aanhouding is.