7.09.2010 Hoërhof moet saak aanhoor
 Uitbundige ondersteuners van die RDP het gister in die straat voor die Hooggeregshof gedans om hul vreugde met die uitspraak ten gunste van die opposissiepartye se appèlaansoek te toon.
VREUGDEKRETE het gister in die Hooggeregshof opgeklink toe Hoofregter Peter Shivute die appèl wat nege opposisiepartye teen die verwerping van hul verkiesingsaak deur die Hoërhof aangeteken het, toegestaan het.
Dit beteken dat die Hoërhof wat vroeër vanjaar die saak waarin growwe verkiesingsbedrog beweer word, op tegniese gronde verwerp het, nou uitspraak oor die meriete van die saak sal moet gee.
In ’n eenparige uitspraak deur die volle regbank van die Hooggeregshof, wat deur Hoofregter Peter Shivute voorgelees is, word die appèl met koste toegestaan.
 Hoofregter Peter Shivute het gister in die Hooggeregshof die lankverwagte uitspraak in die verkiesingappèlsaak gegee.
Dit het Hoofregter Shivute byna twee ure geneem om die 82 bladsy lange uitspraak voor te lees.
Die Hooggeregshof het bevind dat die besware wat deur die Verkiesingskommissie en Swapo geopper is oor die laat indiening van die hofstukke deur die opposisiepartye sonder genoegsame verduideliking van enige buitengewone omstandighede nie geldig is nie.
Gevolglik moet die Verkiesingskommissie en Swapo nou ook die regskoste van die opposisiepartye betaal.
In die aanvanklike aansoek in die Hoërhof kla die opposisiepartye oor onreëlmatighede wat hulle beweer in die aanloop tot, gedurende en na die verkiesings plaasgevind het; die gebrek aan deursigtigheid en aanspreeklikheid tydens die verkiesingproses; statutêre nienakoming met die verifiëringsproses en gevolglike ongegronde uitslae.
Die partye het ook aangevoer dat afgewyk is van die beginsels wat in die verkiesing moes geld en dat die vele onreëlmatighede die verkiesingsproses onberekenbare skade berokken het.
Dit kan nie reggestel word deur ’n oortel van die stembriewe nie en gevolglik moet die verkiesings nietig verklaar word. Met die appèlverhoor moes die regslui argumente aanvoer oor of die verkiesingsaansoek behoorlik en betyds by die hof ingedien is, soos in die Kieswet voorsien.
Andersins, of die indiening ná 15:00 toe die griffier se kantoor gesluit het, die indiening ongeldig maak tensy buitengewone omstandighede bewys kon word.
Boonop moes besin word of die buitengewone omstandighede in die hofstukke aangedui moes word.
Indien nie moes bepaal word of die hof die na-ure indiening van die verkiesingsaansoek kon kondoneer.
Regslui moes ook aandui of die Hooggeregshof oor die meriete van die saak moes oordeel en of dit na die Hoërhof terugverwys moes word.
In die uitspraak word die feit erken dat die hofstukke na-ure maar steeds binne die 30 dae spertyd wat die wet bepaal geliasseer is. Die argument dat ’n dag 24 uur het en dat regslui nog tot middernag gehad het om die dokumente te liasseer, het egter nie water gehou nie.
Die feit dat die griffier wel by magte is om na-ure hofstukke vir liassering te ontvang, en dat die datumstempel van die griffier se kantoor op die hofstukke verskyn, is volgens die appèlregters bewys dat oorweging oor die redes vir laat indiening gegee is. Hierbenewens is saaknommer A01/2010 aan die hofaansoek toegeken. Dit is volgens die Regters wetlik betekenisvol.
“Verkiesingsaansoeke is deur hul aard belangrik. Dit handel oor verkiesings vir verteenwoordigers van die mense tot die hoogste openbare ampte in die demokratiese instansies van ons Staat.
“Dit is van die mees belangrike meganismes waardeur ons ons grondwetlike demokrasie en die fundamentele regte van ons burgers beskerm om op gelyke grondslag aan politieke aktiwiteite deel te neem; die integriteit van vrye en regverdige verkiesings as manier om die kollektiewe sosio-politieke wil van alle stemgeregtigde Namibiërs te verseker; om verteenwoordiging in hierdie belangrike ampte deur mense wat nie behoorlik verkies is nie te voorkom en ’n onafhanklike beoordeling van klagtes oor verkiesings op ’n vreedsame, deursigtige manier toe te laat.
“Verkiesingsaansoeke kan nie gelyk gestel word met ander aansoeke wat na ’n hof gebring word nie. Die kort tyd wat die wet voorskryf vir hul indiening en verhoor veronderstel dat die hof dit op ’n semi-dringende grondslag moet akkommodeer,” het die Regters bevind.
Voorts voer die Regters aan dat die gronde waarop die aansoekers die verkiesingsuitslae uitdaag veelvuldig en verreikend is. Dit alleen kon, volgens die uitspraak voldoende gronde vir die griffier gewees het om die laat indiening van die hofstukke te aanvaar.
Gevolglik is geen rede gevind om die aanvaarding van die hofstukke deur die registrateur in twyfel te trek nie.
|