
Mnr. Vinson Hailulu
DIE hoof uitvoerende beampte van die Nasionale Behuisingsonderneming (NHE), mnr. Vinson Hailulu, sal nie môre in die streekhof hoef te verskyn op klagtes van beweerde korrupsie nie.
Dit volg nadat die Hoërhof, met Regter Kato van Niekerk op die bank, gister argumente van sowel mnr. Hailulu se regsverteenwoordiger, adv. Sisa Namandje, en dié van die Prokureur-generaal, adv. Harald Geier, aangehoor het in ’n dringende aansoek teen dié hofverskyning.
In sy aansoek voer mnr. Hailulu onder meer aan dat die Aanklaergeneraal, me. Martha Imalwa, haar skuldig maak aan minagting van die hof deur ’n vroeëre Hoërhofbevinding te ignoreer dat sy inhegtenisname deur lede van die Teenkorrupsie Kommissie (ACC) ongeldig is en dat klagtes teen hom teruggetrek word, hangende die uitslag van ’n hersieningsproses. Alle aanduidings was gisteroggend met die aanvang van die hofverrigtinge daar dat die partye buite die hof sou skik, toe die invoeging van die woord “voorlopige” terugtrekking van die klagtes, die stok in die speke geword het.
Die Kantoor van die Aanklae-rgeneraal het besluit om nie bes te gee nie en adv. Namandje het sy kliënt se saak gestel. Hy sê hofdokumente is op die Aanklaer-generaal bedien nadat sy klagtes teen mnr. Hailulu gebring het spruitende uit die ACC-saak van verlede jaar.
Volgens hom is die voorlopige tersydestelling van die klagtes teen mnr. Hailulu verlede jaar deur die hof ’n beletsel op die Kantoor van die Aanklaergeneraal om opnuut dieselfde klagtes teen hom te bring. Boonop is die besluit van die AG gegrond op die ondersoek van die ACC, wat duidelik verlede jaar deur die hof verwerp is.
’n Ernstige twispunt tussen die partye was die feit dat die AG nie ’n party in die eerste hofgeding was nie. Dit was een van die punte waarvoor mnr. Hailulu se regspan op daardie tydstip aangedring het.
Nou dring hulle egter daarop aan dat sy wel ’n party was by die saak omdat sy die klagtes en getuienis van die ACC in haar besit gehad het en bewus was van die inhoud.
In sy betoog het adv. Geier gesê die aansoekers se saak het geen substansie nie en dat veral die ACC as sy direkteur, mnr. Paulus Noa, se insluiting as tweede en derde respondente in die saak onsinnig is en gevolglik moes die saak met koste van die hand gewys word. Hy voer aan dat die hofaansoek daarop uit is om die AG te teiken.
“Verlede jaar het hulle betoog dat die AG geen regstreekse belang by die saak het nie, en nie geraak word deur enige hofbevel nie. Nou draai hulle om en sê die hofbevel is bindend op die AG en daarom is sy skuldig aan minagting van die hof.”
Met die afsluiting van die hofverrigtinge het adv. Geier gesê die AG het besluit om die klagtes wat mnr. Hailulu môre voor die streekhof te staan sou laat kom het, terug te trek ten einde vir Regter Van Niekerk voldoende tyd te gee om die huidige saak se feite te oorweeg en ’n ingeligte uitspraak daaromtrent te lewer.
Die besluit van die AG sal dan gegrond word op die uitspraak van Regter Van Niekerk. Adv. Namandje het aangebied om bykomende hofstukke spruitende uit verlede jaar se hofgeding aan Regter Van Niekerk beskikbaar te stel om haar van die nodige agtergrond te voorsien, maar adv. Geier het hierteen kapsie gemaak omdat die AG nie verlede jaar ’n party in die geding was nie en gevolglik nooit haar kant van die saak in hofstukke gestel het nie.
Hy meen die beëdigde verklarings van die aansoekers en respondente in dié saak is voldoende vir die Regter om ’n geheelbeeld van die saak te kry.
Regter Van Niekerk het gevolglik uitspraak in die saak voorbehou.