
Me. Susanne Hoff het Vrydag haar eerste verskyning in die hof op aanklag van sameswering tot moord gemaak.
DIE vrou wat daarvan beskuldig word dat sy haar man om die lewe wou bring deur na bewering twee mans te huur om hom te vermoor, was Vrydag tydens haar eerste verskyning in die hof emosioneel toe sy hoor dat sy nie borg gaan kry nie.
“Ek het kinders, wat van hulle?” het me. Susanne Hoff, in ʼn roomkleurbroek en streephemp, tydens die verhoor aan die landdros gevra.
Mnr. Hendricks Tholiso wat die staat se saak behartig, het aangevoer dat Hoff nie borg moet kry nie weens die erns van die klag teen haar.
“Die saak moet uitgestel word tot 30 Januarie vir verdere ondersoek. Talle verklarings word nog in hierdie saak benodig,” het Tholiso gesê.
Landdros Eduard Kesslau het Vrydag ten gunste van Tholiso beslis en borg geweier.
“Tot die hofsaak weer in Januarie voortgaan, gaan jy in aanhouding bly, maar jy kan jou regsverteenwoordiger raadpleeg om ’n formele borgaansoek in te dien,” het Kesslau aan Hoff gesê.
Alhoewel polisiebronne reeds Donderdag bevestig het dat sy aangekla is van sameswering tot moord, het Hoff tydens die verhoor gesê dat sy eers Vrydagoggend aangekla is.
Sy is verlede Woensdagaand in die hoofstad in hegtenis geneem nadat sy na bewering twee mans gehuur en betaal het om haar man, mnr. Egbert Hoff, te vermoor.
Die mans het glo al reeds N$17 000 ontvang en ʼn bykomende N$20 000 sou na die moord uitgevoer is, glo aan hulle betaal word. Hulle moes glo ná die moord haar man se bakkiesleutel en beursie aan haar oorhandig as bewys dat hy wel dood is. Die mans is na die polisie om hulle van die ooreenkoms in te lig. Ná die bekentenis het die polisie ingegryp en Egbert se sleutels en beursie by hom gaan haal. Die gehuurde mans het dit toe aan Hoff oorhandig en sy is kort daarna in hegtenis geneem.
Sy is ’n bekende in advertensieen perdrykringe en haar man is ’n bekende Simmentalerboer van die Khomas Hochland. Die egpaar is ook bekend vir hul perdestoet, Neu Heusis.
Hoff word deur mnr. Sarel Maritz verteenwoordig.