4.03.2010 Gariseb weer in hof ná onwettige slagtery
’n BEKENDE inwoner van Rehoboth, Jafet Gariseb, wat verlede maand in hegtenis geneem is nadat hy met ’n bakkievrag geslagte skape in sy besit betrap is, het Maandag ’n tweede verskyning in die landdroshof op die dorp gemaak.
Die polisie het tydens patrollie op en om die dorp op die wit Nissan-bakkie met die registrasiemerk N 131 U afgekom en die bakkie tot stilstand gedwing. Twee mans het voor uit die voertuig gespring en die veld in gehardloop, maar Gariseb, wat die bakkie bestuur het, het bly sit.
By nadere ondersoek het polisiekonstabels op ’n lewendige skaapooi, vier karkasse en skaapkoppe, asook pootjies afgekom. Gariseb het met sy inhegtenisneming beweer dat iemand hom glo gevra het om die kleinvee op te laai. Die toneel waar die skape langs die Oanobdam geslag is, is besoek en al vier die velle is daar gevind.
Drie van die karkasse en een lewendige skaap behoort aan mnr. Koeler Britz en een van die karkasse aan mnr. Jacobus Claassen. Die twee eienaars boer saam op Kamp 14 net buite die dorp.
Met sy eerste verskyning is N$2 000 borg aan Gariseb toegestaan. Hy moet op 5 Mei weer in die hof verskyn en sy borgtog is verleng. Die rede vir die uitstel is sodat hy regshulp kan bekom. Die ondersoek en soektog na die twee vermeende veediewe duur voort.
|