30.07.2010 Duisende soek bloed
MEER as ’n duisend woedende Namibiërs het die vermeende moordenaar en verkragter van Magdalena Stoffels by die Katutura landdroshof ingewag, terwyl die Namibiese polisie met verdere ondersoeke na die misdaadspoor van Junior Phillippus onderweg is.
Aanduidings was gister dat die polisie sedert die arrestasie van Phillipus nog waardevolle bykomende inligting bekom het wat die verdagte aan ander moontlike misdade kan verbind.
Ondubbelsinnige woede was sigbaar onder die skare wat by die hof saamgedrom het, terwyl die polisie tydens die hofverrigtinge orde moes handhaaf. Weens ’n gebrek aan spasie moes mense weggewys word wat die hofverrigtinge wou bywoon.
Skerp veiligheidsmaatreëls om orde te handhaaf, is deurgaans deur die polisie afgedwing.
Geklee in dieselfde wit T-hemp en slaapbroek waarin hy die vorige dag in hegtenis geneem is, het die verdagte sy verskyning in die beskuldigdebank gemaak. Hy word van verkragting en moord aangekla en is deur die hof ingelig dat as hy nie sy eie regsverteenwoordiging kan bekostig nie, hy steeds op gratis verteenwoordiging van die direktoraat vir regshulp in die Ministerie van Justisie geregtig is.
Op ’n vraag of hy vir regshulp gaan aansoek doen, het hy geantwoord dat hy homself sal verteenwoordig.
Met betrekking tot borgtog het die hof gesê dat dit nie in die belang van die gemeenskap óf die reg is dat die beskuldigde borg kry nie en die beskuldigde sal in aanhouding bly.
Volgens hoofinspekteur Angula Amulungu van die Namibiese polisie se skakelafdeling het die ondersoekspan in die moordsaak reeds waardevolle bykomende inligting gekry wat die verdagte, Junior Phillipus, ook aan ander misdade koppel, deur onder ander skoolmaats van Magdalena te ondervra.
Republikein het gister berig dat een van die meisies glo kort tevore deur die einste man met ’n mes teen haar keel gedreig en van haar selfoon beroof is, in dieselfde rivierloop waar Magdalena Dinsdag met haar lewe geboet het.
Hoofinsp. Amulungu sê die hoofondersoekbeampte het die skoolhoof van Dawid Bezuidenhout Hoërskool, mnr. Johannes Hill, versoek om die name te kry van leerlinge wat voorheen met die vermeende moordenaar ’n potjie geloop het. Aangesien sommige van die leerlinge nog minderjarig is, wil die polisie eers met hul ouers in verbinding tree om toestemming te kry om die kinders te ondervra.
Die saak is tot 1 September vir verdere ondersoek uitgestel.
Polisie keer woedende skare by die hof se hek
Klik op die foto om die fotogallery te vertoon. In die gallery sal jy na die volgende of die vorige foto's kan aanbeweeg deur in die linker- of die regterkant van die foto te klik. Alternatiewelik kan jy die sleutel "T" gebruik vir terug, "V" vir vorentoe of "M" om die fotovenster toe te maak.
|