MET die hofverskyning van drie mans wat van moord op ’n gevangene in die Windhoekse sentrale gevangenis aangekla word, het die vermeende liefdesdriehoek nou een hoek bygekry. ’n Skerpgemaakte metaalvoorwerp wat van die onderkant van ’n besemstok verwyder is, was na bewering die moordwapen.
Herman Rukero (23) van Gibeon, Benedictus Afrikaner (26) van Aranos en Malaechi Seibeb (45) wat onder medegevangenes ook op die bynaam Kofi Annan bekend is, van Rooivlak in die Khorixas-distrik, het Vrydag voor landdros Nandongo in verband met die moord op Eddy Gomxab (33) verskyn.
Die saak is tot 11 Junie uitgestel vir verdere ondersoek asook om die verdagtes kans te gee om vir regshulp aansoek te doen. Hulle sal onmiddellik uit sel 4 van die Windhoekse sentrale gevangenis verwyder word om sodoende nie met die ondersoek in te meng nie. “Hulle is reeds verwyder,” het een tronkbewaarder in die hof gesê.
Die oorledene was besig om 17 jaar tronkstraf uit te dien vir poging tot moord, verkragting, inbraak, onwettige besit van ’n vuurwapen en beskadiging van eiendom. Rukero en Afrikaner is agter tralies vir verkragting, terwyl een van hulle ook op twee klagte van ontsnapping skuldig bevind is. Die verdagtes bly in aanhouding.