Dieremishandelaar beboet

Die landdros het ook gelas dat hy nie ?n reg op eienaarskap van die diere het nie. Amaamwa is op 19 Januarie in hegtenis geneem na hy met ses erg ontwaterde perde op ?n sleepwa en ?n vul wat veelvuldige beserings opgedoen het, by die Reitklub op Okahandja aangedoen het.

Hy was volgens inligting met die perde van die Karasburg-omgewing na die Verre Noorde onderweg en het by die Reitklub stilgehou om die diere wat op die sleepwa gelê het en nie kon opstaan nie, af te laai en weer op die sleepwa te laai. Die sleepwa het net plek vir twee perde gehad.

?n Werknemer het gesien dat die diere erge skaafwonde opgedoen het en in ?n swak toestand was, waarna hy hulp ontbied het.

Die diere is daarna behandel deur ?n veearts wat deur die Dierebeskermingsvereniging (DBV) van Windhoek ontbied is.

Een van die hingste het in die tussentyd aan perdesiekte gevrek en die jong vul moes van kant gemaak word na sy haar hoef verloor het as gevolg van die beserings wat sy tydens die rit opgedoen het.

Me. Hillary du Plessis van die DBV in Windhoek het Dinsdag gesê dat die ander vyf perde in ?n goeie toestand verkeer en ten volle van hul beserings herstel het. Die persoon op wie se plaas die diere in die tussentyd gehou is, het aangebied om hulle oor te neem en verder te versorg.

? Die DBV in Windhoek verkoop tans lootjies teen N$50 per kaartjie as deel van sy geldinsamelingsveldtog. Reusepryse is op die spel, wat onder meer ?n nuwe kombuis ter waarde van N$50 000 en wegbreeknaweke vir vier mense, asook vele ander pryse insluit. Diegene wat belangstel om lootjies te koop of boekies met lootjies te verkoop, kan die DBV in Windhoek by tel. 061 238 654 skakel.

Kategorie: