1.03.2010 D-dag vir kiessaak
ALLE Namibiërs se oë is vanoggend op die Hoërhof in Windhoek waar ’n volle regbank die kiesaansoek van die nege opposisiepartye teen die Verkiesingskommissie (ECN) en nog vier ander partye sal aanhoor.
Die verwagting is dat die hof vandeesweek nog sal sê of die aansoekers slaag en Namibiërs na die stembus moet terugkeer, en of ’n oortelling van die stemme moet geskied. Die partye gaan die hof versoek om die uitslae van die afgelope nasionale en Presidentsverkiesings nietig te verklaar of alternatiewelik dat die stemme van beide hierdie verkiesings oorgetel moet word.
Die nege aansoekers is die Rally for Democracy and Progress (RDP), die Republikeinse Party (RP), die UDF, Nudo, die All Peoples’ Party (APP), Congress of Democrats (CoD), die Namibia Democratic Movement for Change (NDMC), die Democratic Party of Namibia (DPN) en die DTA. Die respondente in die saak is die ECN, Swapo, Monitor Aksie Groep (MAG), National Democratic Party (NDP) en Swanu.
Swapo het ook intussen tot die regstryd toegetree en veral klem gelê op die beweerde verkeerde prosedures wat gevolg is om die oorspronklike aansoek uit te brei om ook die nietigheidsverklaring van die Presidentsverkiesing in te sluit en die bykomende kostes wat aangegaan sal word as die verkiesings oorgehou moet word.
Swapo het met hierdie verkiesings N$8,2 miljoen op die party se verkiesingsveldtogte bestee benewens die sowat 12 000 vrywillers wat gratis vir die party gewerk het.
Die opposisiepartye het in sy beantwoordende verklaring gesê die ECN skram daarvan weg om antwoorde te verskaf oor kwessies wat sentraal in die verkiesingsaak staan.
Mnr. Libolly Haufiku van die RDP sê in die beëdigde verklaring van die nege politieke partye dat dit in sekere gevalle opvallend is hoe die ECN dit vermy om kwessies te bespreek.
Dit is volgens hom teleurstellend. Hy het bygevoeg dat die ECN as ’n openbare liggaam die inwoners oor die verloop van die verkiesings moet inlig, eerder as om ’n ontwykende benadering te volg.
Hy sê die ECN haal eerder tegniese punte op as om op die kwessies in die aansoek te fokus. Vroeër is bekendgemaak dat senior advokaat Vincent Maleka van Suid-Afrika die ECN se saak sal lei.
Die ander ECN-regsverteenwoordigers is mnr. Sisa Namandje, adv. Gerson Narib en adv. Gerson Hinda. Die opposisiepartye se saak word behartig deur mnr. Tobie Louw, met senior advokaat Reinhardt Tötemeyer wat deur adv. Albert Strydom bygestaan sal word.
Intussen het dr. Albert Kawana in sy hoedanigheid as waarnemende Prokureur-generaal in die Nasionale Vergadering ’n waarskuwing gerig aan diegene wat nie die onafhanklikheid van die regbank respekteer nie.
Volgens hom moet alle moontlike stappe gedoen word om te verhoed dat enigiemand inmeng by wetstoepassers en Regters wat hul pligte uitvoer.
Dr. Kawana het beklemtoon dat Regters wat op die Namibiese regbank dien, deur die President aangestel is op aanbeveling van die Regsdienskommissie.
As sodanig is die Regbank ’n instelling wat grootliks op die uitvoerende gesag steun om toe te sien dat regsuitsprake afgedwing word.
|