23.5.2012
 Argiewe:

Vandag se Spotprent


Gene Travers

Market indicators


23 Mei 2012

30 Bruidspare gekies


Advertensie
Advertensie

Ons Argiewe

16.02.12

Graf nooit toegegooi

15.02.12

Ongeluk eis bekende in perdrykringe

13.02.12

KK oor vingers getik

14.02.12

Drie fetusse binne ’n week

16.02.12

Kuberkrakers steel miljoene

24.08.2010

Brand-moord: Kariko gee sy weergawe


Ephraim Kariko
OPSIENBARENDE getuienis het gister aan die lig gekom in die verhoor van ’n jong man wat daarop teregstaan dat hy die voormalige koerantman en eienaar van Die Restaurant in Walvisbaai, mnr. Awie Brand, vermoor het. Ephraim Kariko (23), staan in die Hoërhof in Windhoek tereg op klagte van moord, roof met verswarende omstandighede en dwarsboming van die gereg.

Die staat beweer dat Kariko mnr. Brand op 20 Junie 2008 by sy restaurant in Walvisbaai met ’n knuppel vermoor en hom daarna van sy Hyundai-motor, die motorsleutels, ’n selfoon en N$800 kontant beroof het. Mnr. Brand (58) se liggaam is die volgende oggend in Die Restaurant se stoorkamer gevind. Intussen het Kariko na Windhoek gevlug waar hy, ná ’n nag van gefuif, op 22 Junie in hegtenis geneem is.

Kariko het onskuldig op alle klagte gepleit en beweer dat mnr. Brand hom aangeval het nadat hy seksuele toenadering geweier het. Kariko het ontken dat hy die nodige opset gehad om mnr. Brand te vermoor en aangevoer dat hy in selfverdediging opgetree het. Volgens Kariko het hy na Windhoek gevlug ten einde advies van sy familie in te win oor hoe hy die voorval moet hanteer.

Die hof het vroeër getuienis gehoor dat Kariko, wat voorheen vir die oorledene gewerk het, glo in 2006 geld van mnr. Brand gesteel het. ’n Brief waarin Kariko om verskoning vir die diefstal gevra het, is saam met ander dokumente op die toneel gevind.

Kariko het gister in sy verdediging getuig dat hy op die aand van die moord deur mnr. Brand na die restaurant genooi is om moontlike werkgeleenthede te bespreek. Mnr. Brand het hom glo drank aangebied.

“Toe ek van die toilet terugkom, het ek die oorledene op ’n bank sien sit. Sy broek was uitgetrek en hy was besig om te masturbeer. Hy het aan my gesê dat ek hom moet betas.

“Ek het geweier en aan hom gesê dat ek wou gaan en dat hy vir my die deur moet oopsluit. Hy het gesê dat hy my sal vergewe vir die N$3 000 wat ek hom geskuld het. Indien ek nie wou ‘saamspeel’ nie, sal hy my aan die polisie rapporteer,” het Kariko getuig.

Volgens Kariko het mnr. Brand hom toe aangeval en platgeduik. In die stoeiery op die grond het hy ’n houtknuppel onder die bank gegryp en mnr. Brand daarmee geslaan.

“Ek het hom drie keer met die knuppel geslaan waarna hy geval en sy kop teen ’n tafel gestamp het. Ek het vir my lewe gevrees en was geskok en bang,” het Kariko gesê.

Hy het getuig dat ná hy besef het dat mnr. Brand dood was, hy die lyk in die stoor gaan wegsteek het waarna hy die motor, selfoon en N$800 gesteel het. Kariko hou vol dat hy deurmekaar was en nie die bedoeling gehad het om die misdade te pleeg nie.

Die saak duur vandag voort. Mnr. Jan Wessels verteenwoordig Kariko terwyl me. Ethel Ndlovu die staat se saak behartig. Regter Alfred Siboleka is op die bank. Kariko is tans vry op borg.