
Die goewerneur van Karas-streek, Dawid Boois, in die beskuldigdebank waar hy 24 klagte van selfverryking en verryking van andere in die gesig staar.
DIE dag nadat Namibiërs hul kruisies in die November-verkiesing getrek het, sal die omstrede goewerneur van die Karas-streek, mnr. Dawid Boois, in die streekhof op Keetmanshoop op 24 klagte van selfverryking verskyn.
Namibiërs gaan vanjaar op 27 en 28 November stembus toe en die volgende dag is die beskuldigde se eerste verskyning in die streekhof geskeduleer.
Die saak teen die goewerneur, wat na bewering weens hebsug sy posisie misbruik het, is Vrydag in die landdroshof op Keetmanshoop na die streekhof op die dorp verwys waar hy na verwagting ook met sy eerste verskyning sal pleit.
Die atmosfeer in en om die hof was Vrydag gelate, in teenstelling met die woelinge tydens mnr. Boois se eerste verskyning met ’n politieke veldtog, ’n optog, die polisie wat ondersteuners belet het om ’n rooi tapyt voor die hofsaal uit te rol en ’n mediakonferensie ná die hofsaak.
’n Inwoner van die woonbuurt Noordhoek, waar die beskuldigde woon, het gesę met dié verskyning van mnr. Boois het ’n kalmte in die buurt geheers en almal kon rustig slaap.
Vrae word nou openlik gevra of hierdie die begin van die einde van die mnr. Boois se politieke loopbaan kan wees. Kenners meen die saak kan sy kanse kelder om weer as ’n kandidaat vir die Berseba-kiesafdeling te staan.
Die distrikstruktuur van die Swapo-party sal hom moontlik nie as hul kandidaat kan nomineer nie, aangesien mnr. Boois ’n hangende kriminele saak teen hom het. As hy wel genomineer word, kan Swapo se politburo dit weens geloofwaardigheid- en moraliteitsredes afskiet.
Prof. Gerhard Tötemeyer het van sy plaas in die Kunene-streek oor die implikasies van die hofsaak op mnr. Boois se politieke loopbaan beklemtoon dat Swapo beheer het oor die nominasie van sy kandidate vir die verkiesing. “Dit is die morele verantwoordelikheid van politieke partye om toe te sien dat hul kandidate geloofwaardigheid het om tot openbare posisies verkies te word,” het prof. Tötemeyer gesę.
Oor die verwagte wysiging van die Wet op Streeksrade, wat die Staatshoof magte sal gee om die goewerneurs van streke te nomineer, het prof. Tötemeyer gesę: “Die Regering aan nie nou verandering oor dié wet maak nie, die tyd is te min.”