DIE tweede beskuldigde in ʼn moordsaak wat sedert 2005 sloer, het Dinsdag in die hof getuig dat hy nooit ʼn bekentenis onderteken het nie, sy regte nooit aan hom verduidelik is nie en dat hy aangerand is.
Volgens mnr. Joseph Wasuka Nunda (links), wat op ’n klag van die moord op mnr. Ralph Köhnke teregstaan, is hy na die Katutura-polisiekantoor geneem nadat hy na die plek van die moord geneem is. Hier moes hy talle plekke aan die polisie uitwys.
Hulle het na bewering daarop gehamer dat hy die waarheid moet praat, maar Nunda was onseker na watter waarheid hulle verwys.
“’n Lang man wat nie aan my bekend is nie, het my daarna aangerand. My kop is later bedek en die polisiebeamptes het my gedwing om hul vrae te beantwoord,” het hy in die hof gesê.
Iemand in die polisiekantoor het daarna foto’s van Nunda geneem en het vir hom gevra of hy aangerand is. Hierop het hy bevestigend geantwoord. Hy het ook bevestigend geantwoord toe dieselfde polisiebeampte hom gevra het of hy gedwing was om iets te doen.
Beide mnr. Domingo Zuzee da Costa en Nunda staan tereg op ’n klag van die moord op die 35-jarige Köhnke. Hy was as vlieginstrukteur by die Namibiese Lugvaartopleidingsakademie (NATA) werksaam. Hy is op 26 Desember 2005 by sy huis in Windhoek-Wes vermoor en beroof. Die mans wou Köhnke se liggaam glo aan die brand steek na hulle hom vermoor het.
Die verhoor het verlede jaar met ʼn binneverhoor begin nadat Da Costa sy beweerde erkenning betwis het.