
Mnr. Kasupi Andreas, die man wat die dood vrygespring het omdat hy laatnag vir hom selfoonkrediet wou gaan koop by die enigste muur van sy sinkhuisie wat staande is na ‘n bakkie daardeur gery het.
DIE bestuurder van die bakkie wat verlede naweek deur twee sinkhuise in die Sewende Laan informele woonbuurt van Otjomuise in Windhoek geploeg het, is op borg van N$5 000 vrygelaat ná hy op klagte van strafbare manslag en roekelose en nalatige bestuur in hegtenis geneem is.
Mnr. Lesley de Koe is Dinsdagoggend omstreeks twee-uur in Katutura in hegtenis geneem en het later die oggend in die landdroshof in Katutura verskyn. In die voorlopige klagstaat staan hy tereg op die hoofklag van strafbare manslag.
Die beskuldigde het onskuldig gepleit toe die klagstaat aan hom voorgelees is en is toe op borgtog van N$5 000 vrygelaat. Hy moet weer vroeg in September na die hof terugkeer nadat die saak vir verdere ondersoek uitgestel is.
Mnr. De Koe word daarvanToitbeskuldig dat hy verlede Saterdagaand deur die huis van mnr. Kasupi Andreas gebars en toe binne-in ‘n tweede sinkhuis se kamer tot stilstand gekom het waar die sesjarige Ndapewa Nashuuta gelê en slaap het.
Sy is op slag dood en haar ma, Elizabeth Ngwetha, is tydens die ongeluk beseer. Ndapewa se pa, Jordan Nshuuta, woon nie saam met haar ma nie en was nie in die huis toe die tragedie plaasgevind het nie.
Die bestuurder van die bakkie het kort na die ongeluk van die toneel weggevlug. Die Namibiese polisie en die verkeersafdeling van die Windhoek stadspolisie het die dag na die ongeluk bevestig dat die bakkie aan ‘n boukontrakteur behoort en kort daarna bevestig dat hulle na die persoon soek wat die bakkie bestuur het.
Volgens inspekteur Kauna Shikwambi is ‘n uitgebreide soektog na die man uitgevoer en is hy uiteindelik Dinsdagoggend aangekeer.
Mnr. Andreas, die eienaar van die huis wat tydens die ongeluk verwoes is, het gesê hy het die aand van die ongeluk sy huis verlaat om vir hom selfoonkrediet te gaan koop.
“Ek het die krediet gaan koop en toe ek hier tussen die ander huise naby my huis kom toe hoor ek die slag. Toe ek nader kom sien ek my huis is heeltemal weg. Net die een muur het nog gestaan en die goed het die hele plek vol gelê.”
Hy sê hy slaap nou in die aande by vriende van hom en dat hy graag weer sy huis wil bou. Hy moet eers net sinkplate en pale bymekaar maak voor hy sy huis klaar kan bou. Sy huisraad is ook vernietig en dit wat hy na die ongeluk kon bymekaar maak, lê onder ‘n seil agter die enigste muur van sy huis enkele treë van die straat waar honderde mense elke dag verbyloop.