11.03.2010 Appèlhof moet sê oor Josea-bates
 Mnr. Nico Josea en sy Gautengse prokureur, mnr. Derick Greyling, gister buite die Hooggeregshof in Windhoek.
BYNA vyf jaar ná die Avid-skandaal woed die stryd voort om tientalle miljoene dollar se staatsgeld van die Maatskaplike Voorsorgkommissie (SSC) te herwin wat na bewering wederregtelik in die sak van mnr. Nico Josea beland het.
Die Appèlhof het gister argumente begin aanhoor in ’n aansoek deur mnr. Eric Knouwds, die likwidateur van Avid Investment Corporation, dat Regterpresident Petrus Damaseb in Desember 2007 gefouteer het deur ’n voorlopige sekwestrasiebevel teen mnr. Josea en sy vrou Hedwicht tersyde te stel omdat die aansoek nie behoorlik op hom bedien is nie.
Mnr. Josea was in Julie 2005 in die selle op klagte van beweerde diefstal en bedrog toe die aansoek in sy afwesigheid voorlopig toegestaan is midde die Hoërhof se sensasionele openbare ondersoek na die SSC se bedroë N$30 miljoen-belegging by Avid. Baie soortgelyke kwessies is op die spel soos in die hangende geding oor verlede jaar se verkiesingsuitslae.
Die Hoërhof het naamlik destyds slegs op tegniese gronde ’n stokkie voor die Joseasekwestrasie gesteek sonder om uitspraak oor die meriete daarvan te gee.
Regter Damaseb het destyds bevind dat die foutiewe bediening van die sekwestrasie-kennisgewing ’n growwe mislukking van geregtigheid verteenwoordig. Adv. Andrew Corbett het gister namens die likwidateur aangevoer dat die Avid-bedrogspul ’n saak van ontsettend groot openbare belang bly.
Hy het die Appèlhof weens uitsonderlike omstandighede dus gevra om sy diskresie te gebruik om finaal te beslis of mnr. Josea en sy vrou se bates verkoop mag word om vir die beweerde grootskaalse plundery te help vergoed.
Volgens die aansoekers het mnr. Josea tot N$14 miljoen van die SSC se geld op ’n roekelose manier vermors sonder om dit ooit te belê – ’n aantyging wat die respondente steeds ten sterkste ontken.
Hoofregter Peter Shivute en Waarnemende Appèlregters Johan Strydom en Simpson Mtambanengwe het laatmiddag nietemin beslis dat hulle vandag net argumente oor die bediening van die destydse aansoek sal hoor en nie oor die res van die saak se meriete nie.
Die saak is met ver meer as ’n uur vertraag toe adv. Jaco van Rooyen van Gauteng eers die nodige geskrewe toestemming moes kry om namens mnr. Josea in Namibië op te tree.
Hy het aangevoer dat adv. Corbett se gruwelik vertraagde aansoek om kondonering vir die laat indien van volledige hofstukke, eers in Februarie vanjaar ingedien, weens ’n string oorsigte met ’n spesiale kostebevel verwerp moet word. Die aansoekers voer egter aan dat hulle goeie redes vir die vergunning het.
Volgens adv. Corbett was die hofrekord van die Avidn ondersoek by Regter Damaseb terwyl hy nog besin het oor die uitspraak in Namangol se likwidasie en hulle kon dus eers in Julie 2008 al die dokumente aan die Appèlhof voorlê.
Hy het benadruk dat die appèl nooit laat vaar is ná die gewone sperdatum van drie maande nie. Adv. Corbett het adv. Van Rooyen se argument verwerp dat mnr. Knouwds destyds bloot ’n nuwe aansoek in die Hoërhof kon indien en dit behoorlik op mnr. Josea bedien.
Volgens adv. Van Rooyen kan nie teen Regter Damaseb se beslissing appèl aangeteken word nie en het die aansoekers absoluut geen kans op sukses nie. Hy het emosioneel gepleit dat dit net tot verdere vooroordeel sal lei as die “bal en ketting” wat mnr. Josea al vyf jaar saamsleep, sonder enige gronde weer aan sy enkel vasgebind word.
Volgens adv. Van Rooyen was sy kliënt dalk onnosel, maar is dit beslis geen misdaad nie. Die kriminele verhoor van beweerde betrokkenes by die Avidskandaal sal eers in Junie 2011 begin.
|