
Hoofregter Peter Shivute
DIE appèlsaak van die agt opposisiepartye teen die verwerping van die aansoek om die uitslag van die verkiesing van lede van die Nasionale Vergadering nietig te laat verklaar, sal nie voor onafhanklikheidsdag aangehoor word nie.
Agt politieke partye het besluit om by die Appèlhof kapsie te maak teen die Hoërhof-uitspraak waarin Regter-president Petrus Damaseb en Regter Collins Parker die verkiesingsgeding met koste van die rol geskrap het.
Hoofregter Peter Shivute het bevestig dat die Verkiesingskommissie en Swapo kennis gegee het dat hulle die saak sal opponeer sodra dit aangehoor word.
“Dit beteken nie dat hulle gaan probeer om te voorkom dat die appél aangehoor gaan word nie, maar dat hulle soos in die geval in die Hoërhof tydens die verhoor hul argumente sal weergee,” het Hoofregter Shivute aan Republikein gesê.
Voorts het hy verduidelik dat in die geval van siviele sake soos wat nou die geval met die partye se appèl is, hoef die Hooggeregshof nie toestemming te gee om die saak aan te hoor nie.
“Dit is net in die geval van appélle teen kriminele en arbeidsuitsprake waar die Hooggeregshof oorweging moet skenk aan die meriete om die saak aan te hoor. In die geval van siviele sake het die aansoekers ’n grondwetlike reg om te appelleer.”
Volgens Hoofregter Shivute moet die aansoekers nou die appèlrekord by die Hooggeregshof indien wat na verwagting nog vandag kan geskied. Dit sal dan ook op die ECN en Swapo bedien word waarna die hof dan ’n datum vir die verhoor moet deurgee.
“Die aansoekers het drie maande om die appèlrekord te liasseer, maar soos in die geval wat redelik dringend is, kan die hofdatum gouer vasgestel word sodra die nodige dokumentasie by die Hof is. Ek kan egter met sekerheid sê dat dit wel nie voor die 21ste van hierdie maand aangehoor sal word nie,” het Hoofregter Shivute gesê.
Die uitslag van die Presidentsverkiesing word nie deur die Rally for Democracy and Progress (RDP), die Republikeinse Party (RP), UDF, Nudo, die All Peoples’ Party (APP), Congress of Democrats (CoD), die Democratic Party of Namibia (DPN) en die DTA betwis nie.