
Mnr. Joseph Hiarunguru
DIE saak van die sewe mans wat daarvan verdink word dat hulle 350 beeste ter waarde van miljoene dollar in die Okahandja-distrik gesteel het, is tot 8 Oktober uitgestel in afwagting op ‘n besluit van die Aanklaer-generaal oor in watter hof die sake verder aangehoor moet word.
Die vermeende meesterbrein, mnr. Joseph Hiarunguru, en ses ander mans, mnre. Shaun Tjiute, Lazarus Kapuitanda, Stephanus Mwanbingi, Sakeus Linikela, Victor Amauta en Erasmus Namila, is deel van ‘n veediefstalsindikaat wat in Februarie in die sentrale noorde oopgevlek is.
Die mans het blykbaar die afgelope twee jaar beeste by verskeie plase in die Otjozondjupa-streek gesteel. Mnr. Hiarunguru het in Junie vanjaar daarin geslaag om in die landdroshof op Otjiwarongo borgtog te kry in ’n ander saak wat met dié sindikaat se bedrywighede in die Otjiwarongoomgewing verband hou, maar dit is tydens sy vorige verskyning terug getrek.
Al sewe die beskuldigdes is steeds in aanhouding nadat landdros Tovuye Nuule borg geweier het.
Beeshandel in die Otjozondjupa-streek is vroeër vanjaar byna lamgelê nadat die direktoraat veeartsenydienste twintig plase gesluit het weens die polisie se uitgebereide ondersoek na die bestaan van ‘n georganiseerde veediefstalsindikaat wat in die sentrale noorde van Nambië bedrywig was.
Drie van die plase het aan mnr. Hiarunguru en die kommunale boer, mnr. Tjiute behoort.