6.09.2010 ‘Transitorowers’: saak uitgestel tot November
DIE sestien mense wat daarvan beskuldig word dat hulle betrokke was by Namibië se grootste transitorooftog waarin N$6,4 miljoen gebuit is, se saak is Vrydag in die Karibib landdroshof tot 23 November vir verdere ondersoek uitgestel.
Die rooftog het op 2 Junie vanjaar tussen Karabib en Omaruru plaasgevind. Die hoofverdagte, Simson Matias, is tot dusver steeds nie opgespoor nie en bevind hom vermoedelik in Angola.
Mathew Munsu Malumbano, Matias se medewerker by die G4S veiligheidsmaatskappy, staan saam met Sainga Ngonga, Juneiro Barros Juneiro Narciro, Edward Juneiro Gendes, Salatiel Elias, Paulina Wamuni, Frederika Hainduka, Kamusha Tuangano, Paulus Mesag, Anna Muyenga, Sirka Kalenga, John Matias, Therisa Matias, Silas Fillipus, Musole Shikata Matias, Timoteus Shikato Matias tereg op klagte van roof met verswarende omstandighede, diefstal en dwarsboming van die gereg.
Die staat voer aan dat al die beskuldigdes saamgewerk het om die rekordbedrag geld uit ’n gepantserde voertuig van G4S te roof. Tot op hede is slegs N$2,1 miljoen van die geld teruggevind.
Aan Munyenga is verlede maand borgtog van N$10 000 toegestaan, terwyl Edward Juneiro op N$5 000 se borg vry is.
G4S het vroeër vanjaar ’n beloning van N$500 000 vir die opsporing van Matias uitgereik. Die bedrag is intussen verminder vanweë die feit dat ’n gedeelte van die geld teruggevind is.
|