27.11.2009 Hou die bande styf!
MET die regte sorg sal ’n voertuig se buitebande langer hou. Die korrekte banddruk soos deur die voertuigvervaardiger gespesifiseer, bespaar brandstof en help ongelukke voorkom.
Bande wat te pap is en ’n motor wat te swaar gelaai is, veroorsaak hoë temperature wat die bande laat ingee en ’n ongeluk kan veroorsaak. Moet nooit die voertuig oorlaai nie. Onthou, bagasie op die motordak is bykomende gewig. Wanneer ’n swaargelaaide waentjie gesleep word, moet minder bagasie binne in die motor gelaai word.
Laat die banddruk, noodwiel ingesluit, een keer per maand en voor elke lang rit nasien. Doen dit wanneer die bande afgekoel is.
Bandlewe kan verleng word deur nie vinnig weg te trek, vinnig stil te hou of te draai of die wiele te laat tol nie. Vermy slaggate en moenie oor voorwerpe in die pad ry nie. Moenie oor sypaadjies ry of teen die sypaadjie vasry wanneer geparkeer word nie.
Nadat ’n wiel hard teen ’n sypaadjie of ’n slaggat gestamp het, moet dit ondersoek word. Dit kan op die oog af veilig lyk maar aan die binnekant beskadig wees.
Wat om te doen
• Wanneer in modder vasgeval of op nat gras gery word: Laat die motor effens vorentoe en agtertoe beweeg deur aanhoudend die ratte tussen tru- en tweede rat te wissel. Doen dit met ’n outomatiese motor tussen “drive” en trurat. Die wiele moet so min as moontlik getol word. As dit nie help nie, sal die motor uitgesleep moet word.
• As ’n band pap word terwyl die voertuig beweeg: Ry stadig na die naaste veilige plek weg van die verkeer. Dit kan dalk die pap band beskadig, maar die veiligheid van die insittendes is belangriker.
|