7.09.2009 Hoës dop lystoetsPohamba verstewig sy greep op Swapo
 Van links is mnr. Ben Amadhila, die Eerste Minister, mnr. Nahas Angula en sy Adjunk, dr. Libertina Amadhila. Sy tree aanstaande jaar uit.
PRESIDENT Hifikepunye Pohamba het die afgelope kieskollege van Swapo gebruik om sy greep op die party te verstewig om sodoende sy mag as Staatshoof te konsolideer op ’n moontlike tweede termyn.
Mnr. Pohamba se beslissende optrede, in die afwesigheid van sy voorganger, mnr. Sam Nujoma, deur streekraadslede te verbied om as kandidate vir die Nasionale Vergadering genomineer te word en die bekendmaking van sy eie tien kandidate, waarvan vyf vroue is, is ’n duidelike teken wat hy aan sy partygenote uitgestuur het.
Die Swapo politburo het vroeër ’n besluit geneem dat streekraadslede nie as NVkandidate moet staan nie aangesien dit sal meebring dat ’n tussenverkiesing moet geskied wat ’n onnodige finansiële las op Swapo en die staat sal plaas.
In Pres. Pohamba se afwesigheid is besluit dat dié reël net van toepassing is op streekraadslede wat deur hul streke genomineer was en nie die wat deur die Swapo Vroueliga aangewys of diegene wat lede van die party se sentrale komitee is nie.
Die sekretaris van die vroueliga, me. Petrina Haingura, het glo met die terugkoms van mnr. Pohamba van sy amptelike besoek aan Indië by Staatshuis gaan hulp soek sodat van haar vrouekandidate op die President se lys moet verskyn.
Sy is egter meegedeel dat mnr. Pohamba se lys van tien name klaar opgetrek was. In dié stadium wou sy weet hoekom sommiges van die streekraadslede hulle nog verkiesbaar stel, terwyl diegene van die Kavango-streek moes onttrek.
Pres. Pohamba, wat glo geskok was dat agter sy rug gekonkel was, het die sekretaris-generaal van Swapo, me. Pendukeni Iivula-Ithana, na Staatshuis ontbied en op die vooraand van die kieskollege opdrag gegee dat ’n skrywe uitgereik word om te verhoed dat die streekraadslede hulle verkiesbaar kan stel.
Dit het byna chaos afgegee aangesien die streekraadslede geargumenteer het dat die opdrag in stryd met die Swapo-grondwet isen dat mnr. Pohamba met die vorige verkiesing vir wyle mnr. John Pandeni genomineer het wat in daardie stadium die goewerneur van die Khomas-streek was.
Niemand het egter gedurf waag om teen mnr. Pohamba se opdrag op te tree nie en streekraadslede het wel hul stemme uitgebring vir kandidate, maar kon nie staan vir dié posisies nie. Mnr. Pohamba het die name van sy tien kandidate na aan sy bors gehou en vir ’n paar verrassings gesorg.
Dit sluit in die huidige Minister van Verdediging, genl. Charles Namholo, wat deur Swapofronte as ’n RDP-verdagte beswadder word, en ’n voormalige goewerneur en Kwanyama, mnr. Billy Mwaningange, asook die president van die NUNW, mnr. Alpheus Muheua.
Van sy ander kandidate is van die Hardap- en Karas-streke wat Swapo die afgelope vyf jaar afgeskeep het. Ander interessante verwikkelinge op die Swapo-kandidatelys is die terugkeer van mnr. Paulus Kapia asook die behoud van sogenaamde RDP-verdagtes soos byvoorbeeld mnr. Elia Kaiyamo, dr. Nickey Iyambo.
Daarenteen verskyn nege Kabinetslede op die onderste gedeelte van die kandidatelys. Dit sluit in die Minister van die Omgewing en Toerisme, me. Netumbo Nandi-Ndaitwah, op nr. 55, die Minister van Werke en Vervoer, mnr. Helmut Angula op 70, die Minister van Geslagsgelykheid en Kinderwelsyn, me. Marlene Mungunda (63) en die Minister van Nasionale Diens, Jeug, Sport en Kultuur, eerw. Willem Konjore (67).
Die ander Adjunkministers is mee. Teopolina Mushelenga, Becky Ndjozo-Ojo, asook mnre. Raphael Dinyando, Victor Simunja en Paul Smit.
Politieke Redaksie
|