Vandag se koerant


Vandag se Spotprent


Gene Travers

Tierheim Practice Show


Motor 11 Julie

Land van kontraste


Advertensie
Advertensie

Ons Argiewe

16.06.08

Noodlanding loop skeef buite Swakop

16.06.08

Rooikruisvrou uit Ethiopië gegooi

23.06.08

Moord op Walvis

10.06.08

‘Ontvoerde’ ma aangekla

06.06.08

Nog ’n aanslag op Ooste-boere

16.05.2008

Hoofmanne ruk leiers in die bek

© Placido Hilukilwa
Die tradisionele leiers wat die konferensie bygewoon het, is van links senior hoofmanne Geroge Nelulu van Oukwanyama, Martha Ileka van Ongandjera, Daniel Shooya van Uukolonkadhi, Mathias Walaula van Okalongo, konings Japhet Munkundi van Ongandjera en Immanuel Elifas van Ondonga, en senior hoofmanne Herman Iipumbu van Uukwambi en Oswin Mukulu van Ombalantu.

TRADISIONELE leiers in die magsbasis van Swapo in die noorde van die land het politieke leiers op ’n noodvergadering oor hul gebrek aan nasionale eenheid, liefde, verdraagsaamheid en nasionale versoening tot orde geroep.

“Onverdraagsaamheid is veral duidelik sigbaar onder die ondersteuners van die onderskeie politieke partye,” het koning Immanuel Kauluma Elifas van die Ondongastam gesê toe hy gister ’n nuuskonferensie op Ongwediva in die Oshana-streek toegespreek het.

Hy het in sy hoedanigheid as voorsitter van die Raad van Tradisionele Leiers gesê Namibiërs het vir nasionale eenheid en vrede geveg. “Dit is skokkend om vandag onenigheid te bespeur. Daar sal altyd verskille in politieke oortuigings wees. Ons moet egter nie toelaat dat dit tot wedersydse haat lei nie,” het hy gesê.

Volgens hom kom politieke onverdraagsaamheid meestal in die vorm van karaktermoord van opponente, lasterlike uitsprake en aanhitsing tot geweld voor. Voorts is daar ’n neiging dat ondersteuners van politieke partye tydens politieke vergaderings gewapen is. “Politieke leiers neem kennis dat ons die afgelope agtien jaar vrede, stabiliteit, wedersydse respek, demokrasie en ontwikkeling geniet het.

Ons het verskeie vrye en regverdige verkiesings gehou. Ons verwag soortgelyke verkiesings in 2009 en 2010, maar indien politieke leiers hierdie demokratiese weg byster raak, is daar geen twyfel dat ons onsself in ’n situasie sal bevind waar ondersteuners van verskillende partye wapens teen mekaar sal opneem nie.

Dit sal noodwendig tot bloedvergieting en verlies aan onskuldige lewens lei,” het hy gesê in sy boodskap wat namens hom deur sy sekretaris, mnr. Joseph Asino, voorgelees is. Koning Elifas het Kenia, Soedan en ander Afrika- en Europese lande as voorbeelde genoem waar politieke destabilisasie katastrofies geëindig het. “Ons kan nie destabilisasie bekostig nie.”

Volgens hom word tradisionele leiers nie toegelaat om aktief aan politiek deel te neem nie, daarom laat hulle die verantwoordelikheid aan die politici oor om die land in vrede te lei. “Ons sal egter nie toelaat om gelei te word deur mense wat nie vir die inwoners se veiligheid en welsyn omgee nie. Daarom versoek ons al die politieke leiers om nasionale eenheid, liefde, versoening, verdraagsaamheid en wedersydse respek na te streef,” het hy gesê.

Koning Elifas het verder gesê: “Ons versoek alle Namibiërs om hul menswaardigheid te bewys deur politieke en tradisionele leiers, hul ouers en alle medemense – in die media en op openbare vergaderings – te respekteer.” Volgens hom is dit almal se grondwetlike reg om hul menings vrylik uit te spreek, maar as tradisionele leiers beskou hulle dit as ’n skande wanneer sommige politieke leiers of hul ondersteuners onbeskoftheid in die media of op openbare vergaderings uitstraal.

“Dit laat die vraag ontstaan: Lê daar ’n voorspoedige toekoms vir Namibië voor of is dit andersom?” Hy sê tradisionele leiers het, volgens die wet, die verantwoordelikheid om vrede en harmonie in die gemeenskap te bevorder. Koning Elifas versoek al die politieke leiers om “hierdie boodskap van vrede” aan hul ondersteuners oor te dra. Die moontlikheid is ook genoem dat kerkleiers gevra sal word om die boodskap aan gelowiges in hul onderskeie gemeentes oor te dra.

“Net soos geestelike leiers, kan tradisionele leiers versoek en vermaan, maar meer as dit kan ons nie doen nie. Ons hoop die politieke leiers sal ag slaan op ons versoek om vrede in die land te behou. Hierdie is ’n tydige vermaning,” het senior hoofman Herman Iipumbu van Uukwambistam gesê. “Ons het in die media kennis geneem van beledigings en kommerwekkende onverdraagsaamheid op openbare vergaderings en in die nedersettings,” het senior hoofman Boas Mweendeleli gesê.

Verteenwoordigers van sewe van die agt stamowerhede van Ovawambo het die nuuskonferensie bygewoon. Die onderskeie afvaardigings was onder leiding van koning Immanuel Elifas van Ondonga en koning Japhet Munkundi van Ongandjera, asook senior hoofmanne Herman Iipumbu van Uukwambi, Oswin Mukulu van Ombalantu, Daniel Shooya van Uukolonkadhi, Mathias Walaula van Okalongo en George Nelulu van Oukwanyama.