Vandag se koerant


Vandag se Spotprent


Gene Travers

Motor 29 Augustus

Advertensie
Advertensie

Ons Argiewe

28.07.08

Vrou staan op uit doodsbed

08.08.08

Presidentseun in boeie

22.07.08

Bloed spat by rugby

30.07.08

Aanval ruk Grootfontein

15.08.08

'n Rokkie wou sy dra, maar o wee...

24.07.2008

Hongare betaal vir Namibiese avontuur

’n PEPERDUUR skattejag en uitda- gingavontuur word in November in Namibië beplan wanneer sowat 80 Hongaarse avontuurlustiges altesame 2 500 km in die noorde van die land sal aflê met een doel voor oë – om ’n prys van vier uniek geslypte diamante los te slaan.

Die deelnemers aan die kompetisie, Namibië Diamanttrofee-avontuur, het reeds hul inskrywingsvorms na die Hongaarse konsulaat in Namibië gestuur en elkeen van die spanne, wat uit vier lede bestaan, sal €4 800 (sowat N$57 400 teen die huidige wisselkoers) as inskrywingsfooi betaal. Die fooi sal die huur van voertuie en akkommodasie insluit. Bykomend tot die inskrywingsfooi word van deelnemers verwag om geskenke soos speelgoed, skryfbehoeftes en selfs rekenaars, vir behoeftige kinders in Namibië saam te bring.

Dié geskenke sal by die SOS Children’s Village in Windhoek en ’n skool in Katutura en by die Ombili-skool vir San-kinders naby Etosha uitgedeel word. Mnr. Erik Molnár, erekonsul van Namibië in Hongarye, het in Windhoek tydens die bekendstelling van die kompetisie gesê wanneer hy in sy land rondloop, weet almal van diamante, maar weinig het nog van Namibië gehoor. “Nou kombineer ons die twee. ’n Goed ontwikkelde diamantbedryf wat in harmonie met sy omgewing en natuurlike wonders is.

“Terwyl die deelnemers van die kompetisie besig is met hulle skattejag, leer hulle Namibië beter ken en word Namibië dus blootgestel aan die wêreld,” aldus mnr. Molnár. Radio Television Luxemburg (RTL) het verlede week ’n breedvoerige mediaveldtog vir die kompetisie in Hongarye afgehandel en is vandeesweek in Namibië om verfilming te doen.

Die mediahuis speel ’n belangrike rol in die bewusmaking van die kompetisie en sal tydens die kompetisie vanaf 5 tot 16 November saam met die deelnemers deur Namibië reis en so indrukke van Namibië in Europa beeldsend. Die roete wat gekies is vir die kompetisie, sal van Windhoek na Tsumeb, deur die Etosha Nasionale Park na Twyfelfontein en Brandberg tot by Swakopmund en weer terug in Windhoek strek.

Deelnemers sal aan ’n reeks uitdagings moet deelneem (soos om een dag as ’n Himba-persoon deur te bring) en sal op grond van sy/haar optrede en aanpasbaarheid punte behaal. “Ons het besluit om dié roete te onderneem omdat ’n groot gedeelte van die roete op teerpad sal geskied en dit aansienlik veiliger is om sowat 20 voertuie so te monitor,” het mnr. Molnár gesê.

Aanstaande jaar kan die roete moontlik na die suide van die land uitgebrei word en sal deelnemers van regoor Europa kan deelneem. Tydens die duur van die kompetisie, sal die president van Hongarye, László Sólyom, ’n staatsbesoek aan Namibië van 12 tot 20 November bring. Hy sal teenwoordig wees by die prysuitdeling.

Die groot prys van vier diamante word gesamentlik deur Herrle & Herma en Hardstone Processing geborg. Me. Benita Herrle het gesê die diamante sal volgens die “Namibian Sunslypstyl” geslyp word. Dit is ’n slypstyl wat verlede jaar deur Hardstone Processing gepatenteer is en is nog deur geen ander slypers gedoen nie. “Elkeen van die diamante sal 0,25 karaat weeg en sal van ’n goeie kommersiële waarde wees.”