22.09.2009 Holzhausen terug by DTA
MNR. Daan Holzhausen, wat onlangs bedank het as voorsitter van die Republikeinse Party (RP), het nou ook sy bedanking uit die party aangekondig. Hy het weer by die DTA van Namibië aangesluit.
In ‘n verklaring sê mnr. Holzhausen hy het tot die gevolgtrekking gekom dat die RP nie ‘n lewensvatbare opposisieparty is nie en nie langer ‘n betekenisvolle rol in die politiek van die land kan speel nie.
“Ek is oortuig dat baie klein partye, soos die huidige kreupel Republikeinse Party en ander kleiner partye, nie enige verandering in die toekoms van ons mense teweeg kan bring nie. Hulle dra net by tot die fragmentering van die stemme van die opposisie om vir hulle te stem. Dit kom daarop neer dat ‘n mens jou stem vermors.
“Ek het gevolglik besluit om weer by die DTA van Namibië, deur die Aksie vir Demokratiese Verandering wat ‘n lidparty van die DTA is, aan te sluit. Die Aksie vir Demokratiese Verandering is nie by die direktoraat van Verkiesings geregistreer nie en neem dus nie onder sy eie naam nie, maar deur die DTA van Namibië aan verkiesings deel.
“Ek doen gevolglik ‘n beroep op al my vriende en kollegas om my voorbeeld te volg en weer by die DTA aan te sluit. Slegs deur volle deelname aan die politiek van ons land, kan ons ons toekoms beïnvloed,” lui mnr. Holzhausen se verklaring.
|