22.02.2010 Hof verwyder 391 van kiesersrol
DIE hof op Okahandja het gelas dat 391 name van die voorlopige kiesersrol vir Woensdag se tussenverkiesing in die Okahandja-kiesafdeling verwyder moet word. Dit bring die totale getal wettige kiesers op 13 888 teenoor die aanvanklike 14 279 te staan.
Die waarnemende direkteur van verkiesings, mnr. Ananias Elago, sê die Verkiesingskommissie (ECN) het Vrydag die finale rol in die Staatskoerant gepubliseer. Hy en mnr. Libolly Haufiku, hoof administratiewe beampte van die Rally for Democracy and Progress (RDP), het gesê nie een van die partye het teen enige van landdros Tuvoye Nuule se beslissings appèl aangeteken nie.
Die RDP het aanvanklik beswaar teen 317 inskrywings aangeteken en nog 184 klagte op rekord geplaas vir ’n totaal van 501 besware. Die party se versoek vir die verlenging van die sperdatum vir besware is van die hand gewys.
Hulle het aangevoer dat hul ondersoekspan waarskynlik nog foute sou kon uitwys as daar meer tyd was.
Volgens mnr. Haufiku sê die landdros se verslag dat sommige mense aanvanklik geweier het om vir die kennisgewings te teken dat hulle 15 dae het om verdediging teen besware aan te teken, omdat hulle gedink het die hof se gesante werk vir ’n politieke party.
Beamptes van die ECN se hulp is ingeroep om die probleem te oorkom. Ondanks oproepe in alle tale op NBC se radiodienste kon die hof nie almal vind teen wie se kiesstatus klagte ingebring is nie, sê die verslag.
Teen die afsnypunt van 18 Februarie het volgens me. Nuule steeds mense by haar kantoor opgedaag om verdediging aan te teken. Alle ongeldige kieskaarte is tydens sulke besoeke gekonfiskeer.
Die hof het gelas dat een minderjarige se naam van die rol geskrap moet word. Dertig dubbele inskrywings asook die name van alle oorledenes is verwyder. Die hof kon een sterfte egter nie verifieer nie.
Alle klagtes oor mense wie se geslag verkeerd op die rol aangedui is (27), en mense wat na bewering in ander kiesafdelings woon (8), is verwerp.
|