4.02.2010 Hof toe met erfwaardes
DIE stadsraad van Hentiesbaai het opnuut en ferm beklemtoon dat die Hoërhof versoek moet word om die omstrede herwaardasie van eiendomme op die vakansieoord nietig te verklaar. Die raad het vandeesweek sonder teenstem ’n einde gemaak aan ’n voeteslepery wat ingetree het ná ’n eendersluidende eenparige besluit wat verlede jaar op 7 Desember deur die raad geneem is.
Ingevolge die besluit moet die regsfirma Kinghorn Associates van Swakopmund opdrag kry om die nodige dokumentasie voor te berei vir ’n aansoek in die Hoërhof om ’n waardasierol tersyde te stel wat verlede jaar op 1 Julie in werking getree het en die hersiening van eiendomsbelasting op die dorp behels.
Daarna moet opnuut met die waardasieproses begin word. Die drif om die besluit van 7 Desember deurgevoer te kry, is vandeesweek op ’n stadsraadsvergadering deur mnr. Cecil Koorts (Civics) gelei.
Die Civics, die dorp se inwonersvereniging, in koalisie met die UDF die meerderheidsparty in die stadsraad, het ook die protesgolf teen die herwaardasies van eiendomme deur die onderneming Nasikama Property Valuation & Consulting CC van mnr. Chat van Wyk gelei. Die eenheidsfront waarbinne die raad in die verband beweeg, spreek uit die eenparige besluit van 7 Desember.
Daar was mnr. Daniël Ndume (Swapo, in opposisie) die voorsteller en me. Anna Hamutenya (Civics) die sekondant. Volgens inligting van Republikein het Nasikama N$199 000 vir die voorgeskrewe vyfjaarlikse herwaardasie van eiendomme op Hentiesbaai gekry. Die vorige waardasietermyn het in 2008 verstryk. Die herwaardasies van verlede jaar, soos goedgekeur deur ’n waardasiehof, het verlede jaar op Hentiesbaai tot ’n protesgolf met onder meer beswaarskrifte gelei.
Algemene beweringe was dat meningsverskille oor verbeterings op erwe bestaan het. Die waardeerders het blykbaar nie saamslaanhuise as verbeterings belas nie. Sekere eiendomme waarop geen verbeteringe aangebring was nie, is nie gewaardeer en gevolglik belas nie en die waardasies het nie vir die eerste en tweede vloere van verdiepinggeboue voorsiening gemaak nie.
Verskillende meetsnoere vir depresiasie van eiendomme is glo ook gebruik. Tydelike strukture, nie geboue nie, is blykbaar ook by die waardasies ingesluit. Nog ’n bewering is dat ’n sertifikaat nie aan Nasikama uitgereik is om as waardeerder op te tree nie. Probleme het ook met die sitting van die waardasiehof ontstaan.
Beweringe is dat die voorgeskrewe kennistydperk van die sitting nie nagekom is nie, dat kennis nie gegee is van ’n voorlopige waardasierol wat ter insae lê nie, dat ruimte nie vir besware gelaat is nie en dat ’n spertydperk nie vir besware voorgeskryf is nie.
’n Hofbevel wat die uitspraak van die waardasiehof nietig verklaar, sal benewens die herwaardasies ’n vrag werk op die munisipaliteit van Hentiesbaai aflaai.
Eiendomsbelastings is reeds sedert die middel van die jaar op die gewraakte waardasies gehef en oorvorderings en moontlike ondervorderings sal individueel bereken en reggestel moet word. In die proses kan die vergoeding aan Nasikama in die gedrang kom vir ’n waardasierol wat nietig verklaar is.
|