13.11.2008

Hof sny Ripperspoor

Geregtelike ondersoek wil raaisel van moorde ontrafel

MET ’n koue Khomas Ripperspoor is ’n ope hof nou een van die laaste troefkaarte om die mees tergende moordraaisel in Namibiese kriminele geskiedenis te ontrafel en die bloedige hoofstuk met vier geskende vroue as slagoffers af te sluit.

Volgens die Aanklaer-generaal (AG), me. Martha Imalwa, kan in beginsel dalk binnekort ’n spesiale geregtelike doodsondersoek plaasvind, waar die families van slagoffers, ander belanghebbendes en die publiek volledig ingelig sal word oor die polisie se ondersoek en bevindinge.

Dieselfde hof sal kragtens wet ook kan beslis of enigiemand in verband met die vier moorde vervolg gaan word al dan nie. Volgens die jongste inligting blyk dit egter dat niemand in die beskuldigdebank gaan staan nie. Net soos die geheimsinnige moordenaar soos ’n groot speld verdwyn het, kan die volle waarheid oor, en die werklike motiewe vir hierdie skokslagting, dalk vir ewig verberg bly.

Ook die hoogste beloning wat nog in die land se geskiedenis uitgeloof is, N$110 000, is steeds onopgeëis. Volgens me. Imalwa kan enige geregtelike ondersoek egter eers plaasvind sodra die volledige dossier haar kantoor bereik. Die AG sal dan kan beslis of die saak gesluit en dokumentasie weggepak gaan word, en of ’n openbare ondersoek onder die wakende oog van ’n landdros, met of sonder ’n versoek in hierdie verband, geregverdig is.

Hoewel die polisie aangedui het hulle wag nog net op die finale uitslag van uitstaande DNS-toetse en ander forensiese verslae, het dr. Paul Ludik, direkteur van die Nasionale Wetenskaplike en Forensiese Instituut van Namibië, benadruk dat hul werk afgehandel is. “Niks is uitstaande nie wat ons rekords betref.

Ons is gereed om enige geregtelike ondersoek by te woon en getuienis te lewer as die AG dit vereis. Ons is klaar met alles wat ons ondersoek het,” het dr. Ludik gesê. Intussen het die polisie by navraag oor Jan Pierre (JP) de Villiers, ’n Suid-Afrikaanse vragmotorbestuurder wat in Augustus vanjaar gesoek is omdat hy dalk met die ondersoek na een van die vier moorde kon help, gesê dat hulle hom nie in hierdie stadium as ’n verdagte of ’n getuie kan bestempel nie.

Speurders was nog twee weke gelede in Suid-Afrika om met De Villiers te gesels. Hy is egter weer laat gaan. Die polisie wou ook nie sê of die Suid-Afrikaanse baasspeurder, supt. Piet Byleveld, hulle in hierdie deel van die ondersoek bygestaan het nie.

Die Inspekteur-generaal, lt. genl. Sebastian Ndeitunga, het in dieselfde brief benadruk dat sonder uitstaande DNS-uitslae geen “onweerlegbare uitspraak” gelewer kan word of wyle Hans Husselmann inderdaad betrokke was nie, of daar ander verdagtes is, asook of al vier die moorde op Melanie Jantze (Augustus 2005), Juanita Mabula (September 2005), Fiola Swartbooi (Desember 2005) en Sanna //Garoës (Junie 2007) die werk van dieselfde moordenaar of moordenaars was nie.

Die ouers en familielede van al vier slagoffers het gister by navraag gesê hulle sal ’n openbare doodsondersoek verwelkom. Selfs al bring dit nie finale antwoorde nie, het hulle deur die bank benadruk dat hulle minstens meer sal weet as wat nou die geval is.

Speurders het die afgelope weke vier van die families opnuut vir oorspronklike foto’s van die slagoffers gevra, terwyl minstens een moeder ingelig is dat die polisie dalk binnekort al die gesinne byeen sal roep. Hoofinsp. Sylvanus Nghishidimbwa lei intussen die ondersoek as waarnemende speurkoördineerder vir die Khomas-streek ná adj. komm. Marius Visser verlede maand afgetree het.