1.02.2010 Hof moet sê oor kiesersrol
DIE landdroshof op Okahandja het tyd gevra om eers die Verkiesingskommissie (ECN) te ken in ’n versoek deur opposisiepartye om die sperdatum te verleng vir die indien van besware teen die voorlopige kiesersrol vir die komende tussenverkiesing in die kiesafdeling.
Klagtes moes Vrydag voor 17:00 in wees. Die Rally for Democracy and Progress (RDP) en partye wat sy kandidaat ondersteun, het die landdros Donderdag vir uitstel gevra ná ’n speurtog wat volgens hulle reeds ’n horde foute en ongerymdhede aan die lig gebring het.
Volgens mnr. Libolly Haufiku, hoof administratiewe beampte van die RDP, is ’n voorlopige dossier van besware wel Vrydag aan die landdros voorgelê. Die party wou egter geen besonderhede oor die inhoud verstrek nie.
Volgens mnr. Nghiningiluandubo Kashume, die RDP se adjunksekretaris vir inligting en publisiteit, sal die landdros hopelik vandag of môre ’n besluit neem.
“Ons wil die hof ’n regverdige kans gee om tot ’n slotsom te kom,” het hy verduidelik, “daarom sal ons voor Woensdag geen inligting oor bestaande besware verstrek nie.
“Ons wil nie enige verwarring veroorsaak nie,” het hy gesê.
Intussen het mnr. Ben Katamila, ’n geskorste lid van Swapo wat as onafhanklike kandidaat staan, die naweek ’n potjie met van sy oudkamerade geloop toe hy foto’s geneem het waar munisipale geriewe Vrydag en Saterdag vir ’n Swapo-braai ingespan is.
Aan die “intimidasie”, vertel hy, het hy hom nie gesteur nie.
Mnr. Katamila wonder of Swapo die dorpsraad vir die partytjies betaal.
|