Vandag se Spotprent


Gene Travers

Market indicators


3 Februarie 2012

Advertensie
Advertensie

Ons Argiewe

06.12.11

Polisieman, boer vertel van ongeluk

05.12.11

Vakansiepad open sy tol

05.12.11

Geen borg vir Susanne Hoff

09.12.11

Vir braaivleisvuur, is permit die kuur

07.12.11

Omkopery op lughawe

3.07.2009

Hoë Swapo-koppe bly op die slagblok

DIE kop van die permanente sekretaris van Buitelandse Sake, mnr. Veiccoh Nghiwete, dié van die voorsitter van die direksie van die staat se penioenfonds (GIPF) mnr. Hartmut Ruppel en dié van die hoofbestuurder: beleggings van GIPF, mnr. Neville Field, is gister deur die Swapo Jeugliga geëis.

Boonop word nou van gewone Swapo-lede verwag om die hande diep in die sakke te steek en op te dok vir die N$250 000 aan skadevergoeding wat die hof aan mnr. Nghiwete in die lastersaak teen die Swapo Jeugliga se sekretaris vir ekonomiese aangeleenthede, mnr. Veikko Nekundi, toegestaan het.

Op ’n nuuskonferensie in Windhoek het die sekretaris van die Jeugliga, dr. Elijah Ngurare, gesê dat Waarnemende Regter John Manyarara wat ten gunste van mnr. Nghiwete in die lastersaak beslis het, nie ’n “onpartydige arbiter” was nie en “die fluitjie geblaas en ’n doel toegeken het, al was daar nie ’n doelwagter nie”. Hy sê regters word ook deur politiek, seks en geld beïnvloed.

In wat deur dr. Ngurare as die “smaaklike ete-hofsaak” bestempel is, het die Regter glo “nie die implikasies besef nie en die feite geïgnoreer.”

“Daar is geen twyfel nie dat die president van die Rally for Democracy and Progress (RDP), mnr. Hidipo Hamutenya, ’n paar maande gelede vir ’n baie smaaklike ete genooi is, vergesel van onder andere die permanente sekretarisse van Finansies en van Buitelandse Sake en die Direkteur-generaal van die Nasionale Beplanningskommissie. Die dinee is deur die Duitse ambassadeur gereël. Wat ons bevraagteken, is die wettigheid van ’n party, die RDP, om deur die ambassadeur genooi te word wat by die Swapo-regering geakrediteer is. Daar is ander, ouer politieke partye in Namibië soos Swanu of die DTA en hoekom het die Duitsers die RDP en nie APP of DPN genooi nie? Die permanente sekretaris van Buitelandse Sake het uiteindelik ’n lastersaak oor die smaaklike ete gewen,” het dr. Ngurare gesê.

Hy sê daar is ’n gesegde wat lui dat ’n spinnerak vlieë vang, maar dat die groot voëls daardeur vlieg. “Hierdie was duidelik ’n wet vir groot voëls met finansiële bronne en invloed op die regbank. Dit is ’n internasionale feit dat regters en die regbank nie heeltemal onafhanklik van politiek, ekonomie, die gemeenskap en boonop van godsdiens, seks of geld kan wees of is nie.

“Met ander woorde die regbank is deel van enige gemeenskap met sy swakhede, welslae en teenstrydighede. Dit is dus nie waar dat die Regter in hierdie smaaklike etesaak nie die politieke implikasies van die dinee met betrekking tot die regsoorwegings geken het nie. Goeie oordeel dui daarop dat hy óf hierdie betekenisvolle kwessie geïgnoreer het óf dat sy gewete hom gedwing het om die regskamoeflering te ondersteun wat deur die vriende of regsverteenwoordigers van die permanente sekretaris geskep is om sy partytjie met die RDP-president te verdedig.

“Die Swapo Jeugliga mag ‘vlieë’ wees en die permanente sekretaris ’n ‘groot voël’, maar ons bly verbind tot die 100 persent ondersteuning van kameraad Nekundi,” het dr. Ngurare gesê.

“Ons stem saam met mnr. Nekundi dat die permanente sekretaris van Buitelandse Sake ter verdediging van sy ete met mnr. Hamutenya, alle vertroue wat ons in hom gehad het, verloor het. Hy moet herroep word. Ons wil hom nou uit hê,” het dr. Ngurare bygevoeg.

Boonop sal die permanente sekretaris van Finansies, mnr. Calle Schlettwein, die direkteurgeneraal van die Nasionale Beplanningskommissie, prof. Peter Katjavivi, asook die direkteur in die Kantoor van die President, mnr. Ndeali Ché Kamati, en die buitegewone raadgewer tot die Minister van Buitelandse Sake, amb. Tuliameni Kalomoh, dadelik moet begin om openbare Swapovergaderings toe te spreek en die mense te mobiliseer om vir Swapo te stem, as boetedoening vir hul teenwoordigheid by die dinee óf sommer net omdat “hulle saam met lede van die RDP eet”, eis die Jeugliga.

Hulle moet ook nie probeer skuil agter die verskoning dat hulle staatsamptenare is nie. Mnr. Nghiwete het op navraag aan Republikein gesê hy het bloot hof toe gegaan om sy waardigheid te beskerm en om die waarheid die lig te laat sien.

“Ek volstaan met wat ek in die hof gesê het. Dit is vreemd dat dr. Ngurare nou tjoepstil is oor die aantygings dat ek saamgesweer het met sekere individue. Hulle het nou hul hele storie verander,” het mnr. Nghiwete gesê.

Die direksievoorsitter van GIPF, mnr. Hartmut Ruppel, het op sy beurt gesê hy is onlangs met die volle mandaat van die trustees van die GIPF as voorsitter van die direksie heraangestel.

“Ons doen alles moontlik om die beste bedryfspraktyke te volg en binne die raamwerk van die wet op te tree. Beleggings word op ’n deursigtige wyse gedoen en geen sprake van korrupsie bestaan nie. Ons is heeltemal bereid om inligting te verskaf oor hoe ons ons beleggings doen,” het mnr. Ruppel gesê.

GIPF sal later ’n volledige verklaring oor die aangeleentheid uitreik.