
Mnr. Dirk Niebel
DIE Duitse minister van ekonomiese samewerking en ontwikkeling, mnr. Dirk Niebel, gaan ’n driedaagse besoek aan Namibië bring en ook Donderdag ’n eregas wees by die daknatmaakgeleentheid van die Ohorongo Cementaanleg naby Otavi.
Die Ohorongo Cement-aanleg, onder eienaarskap van die Duitse maatskappy Schwenk Zemeng van Uln, is die grootste Duitse direkte belegging in Namibië sedert onafhanklikwording.
Sowat die helfte van die belegging van sowat N$2,675 miljard word in samewerking met ontwikkelingsbanke gefinansier, veral deur die Duitse Belegging- en Ontwikkelingskorporasie (DEG), die Ontwikkelingsbank van Suider-Afrika (DBSA), asook die Europese Beleggingsbank.
Dit sal mnr. Niebel se tweede besoek aan die Afrika-kontinent wees sedert hy die pos vanaf November 2009 beklee.
In Windhoek sal hy die geleentheid hê om politieke gesprekke op die hoogste vlakke te hê en verteenwoordigers van verskeie politieke partye en gemeenskapsleiers te ontmoet.
Die fokuspunt van mnr. Niebel se besoek is volhoubare ekonomiese ontwikkeling. Hy sal ook verskeie projekte besoek wat deur die Namibiese-Duitse Ontwikkelingskoöperasie gefinansier word.
Een so ’n projek is ’n mikrokrediet- projek wat in 2008 klein kredietbedrae aan 6 000 kliënte, van wie 92% vroue, verskaf het. As gevolg van die ekonomiese aktiwiteite wat deur die kredietbedrae moontlik gemaak is, het meer as 40 000 mense direk of indirek voordeel getrek, lui die verklaring.