27.11.2009 Het jy geweet?’n Paar bekende en minder bekende feite oor Namibië
 Welwitschia mirabilis
• Die Gibeon-meteorietveld is die grootste ter wêreld en is in 1838 deur sir J. Alexander gevind.
• Die Hardapdam is die grootste mensgemaakte opgaardam in die land.
• Namibië is die eerste land ter wêreld wat omgewingsbewaring in sy Grondwet ingesluit het.
• ’n Ongewone alwynspesie, Aloe viridiflora, is inheems aan Namibië en kom hoofsaaklik voor in die sentrale streek en berge in en om Windhoek. Die plant blom in Augustus en September.
• Die grootste bekende tinneerslag ter wêreld was by Uis ontgin.
• Die langste grottestelsel in Namibië is die van Arnhem, sowat 120 km oos van Windhoek. Die grotte spog ook met ses vlermuis-spesies.
• Die kleurvolle rokke van die Hererovroue is geskoei op die rokke wat die vroue van die Finse sendelinge in die 1900’s gedra het.
• Dragon’s Breath is die grootste ondergrondse meer in die wêreld en is op die plaas Hariseb, 46 km noordwes van Grootfontein geleë.
• Die fossielplant Welwitschia mirabilis kan tot 2 000 jaar oud word.
• Die land se eerste rolprentsaal was op Kolmanskop opgerig.
• Die Hoba-meteoriet wat in die 1920 ontdek is, is die grootste bekende meteoriet ter wêreld. Dit is sowat 80 000 jaar oud en weeg meer as 50 ton.
 Hoba meteoriet
• Meer as 1 650 muile en perde is in 1915 tussen Walvisbaai en Swakopmund deur die Suid-Afrikaanse weermag geskiet. Vandag is die grafhope nog te sien.
• Die land se eerste treinspoor is in 1895 deur die Damaraland-guanomaatskappy gelê.
• Die Namibwoestyn word as die oudste woestyn in die wêreld geag en spog met die hoogste duine.
• Een van die talle indrukwekkende plekke om in Namibië te besoek, is Giant’s Playground en die Kokerboomwoud, sowat 14 km noordoos van Keetmanshoop.
• Namibië het die grootste vrylopende jagluiperdbevolking ter wêreld.
• Talle internasionale sweefrekords is gestel op die plaas Bitterwasser, suidoos van Windhoek.
• Die NamibRand-natuurreservaat is een van die grootse wildreservate in Afrika wat in private besit is.
• Die Tsumebmyn was eens die rykste bron van lood en sink in Afrika. Meer as 200 verskillende minerale is op en om die dorp gevind.
|