
Mnr. Herbert Jauch.
DIE land se huidige benadering teen werkloosheid is nie volhoubaar nie en voortsetting daarvan moet nie eens oorweeg word nie. Mnr. Herbert Jauch, navorser van die Instituut vir Arbeidshulpbronne en -navorsing (LaRRI), het die mening in sy lesing oor die politiek van werkloosheid onder die tema “Armoede 20 jaar na onafhanklikheid” uitgespreek.
Hy het in sy gevolgtrekkings van die Regering se poging om armoede te hanteer, gesê ekonomiese groei in die Bruto Binnelandse Produk (GDP) as ’n maatstaf dui nie op sigself op meer werkgeleenthede nie.
Hy het aangevoer dat herverdelende ingrypings noodsaaklik is om armoede en werkloosheid die stryd aan te sê. Hy het bygevoeg die huidige “reëls” van die globale ekonomie verhoed ’n meer “inwendig uitgroeiende” ontwikkelingstrategie.
Mnr. Jauch het beklemtoon dat ’n nuwe benadering tot ontwikkeling ’n politieke wil vereis. Hy het verder gesê binne die wyer werkloosheidsprentjie kan dié groep onderskei word wat aktief besig is om werk te soek.
Die 2007 opname van die Arbeidsmag het werkloosheid gedefinieer as: “enige persoon van 15 jaar en ouer wat vir sewe dae voor die onderhoud nie gewerk het nie en nie sake of werk het om op terug te val nie, word as werkloos beskou.”
Die 2004 opname van die Arbeidsmag se definisie het verklaar dat as enige persoon in die laaste sewe dae vir ten minste ’n uur gewerk het, is hulle as werkend beskou. Die koue syfers van werkloosheid in Namibië is dat die totale aantal inwoners met werk van 401 203 in 1997 afgeneem het tot 385 329 in 2004 en verder tot 331 444 in 2008.
Luidens mnr. Jauch se statistiek van die jaar 2008 is 75 persent van die jeug werkloos en is 58,4 persent vroue werkloos. Volgens hom is die ekonomiese realiteit dat baie huishoudings (nagenoeg 50 persent) afhanklik van ’n enkele broodwinner is. Luidens die UNDP Menslike Ontwikkelingsverslag van 2009 het Namibië die hoogste vlakke van inkomste- ongelykheid in die wêreld.
Afhangend van watter maatstaf vir armoede gebruik word, is tussen 28 en 82 persent van Namibiërs arm. Hy het aangevoer dít laat Visie 2030 soos ’n lys van Kersfeesdrome lyk.
Hy het gesê die Regering het gepoog om werkloosheid te hanteer deur die uitbreiding van die staatsdiens en die weermag, beperkte openbare werkprogramme soos padkonstruksie, ondersteuning van die ontwikkeling van klein- en mediumondernemings (SME’s), beleggingsvriendelike beleide soos Uitvoerprosesseringsones (EPZ’s) en het hoop geplaas op die deursypelingseffek van markvriendelike en markgedrewe beleide.
Oor die kanse dat die beleide slaag, het mnr. Jauch gesê Namibië is nie ’n “spesiale geval” in die globale ekonomie nie. Hy het gesê skynbare teenstrydighede van globale kapitalisme is:
• globalisering van armoede kom voor gedurende die periode van snelle tegnologiese en wetenskaplike vooruitgang;
• die nuwe ekonomiese wêreldorde teer op menslike armoede en hoë vlakke van werkloosheid wat nou eenderde van die globale werksmag raak.
• net die sterkste oorleef: die doeltreffendheid van die mikro-ekonomie teenoor fabrieke se afdanking van werkers. Groot maatskappye neem die wêreldekonomie oor terwyl kleiner of “oortollige” ondernemings gesluit word.
“Die onderneming met die mees gevorderde tegnologieë en diegene met beheer oor die laagste lone oorleef in ’n wêreldekonomie gekenmerk deur oorproduksie,” het mnr. Jauch aangevoer.
Hy het gesê die moontlike korttermyn ingrypings is onder meer die grootskaalse werksprogramme om maatskaplike infrastruktuur (behuising, landelike paaie, hospitale, klinieke, toilette) te bou. Hy het na die Basiese Inkomstetoelaag (BIG) projek verwys om die plaaslike ekonomie te laat herleef as een van die korttermyn ingrypings wat hoop aan die armstes van die armes kan gee.
Verdere korttermyn ingrypings is die stelselmatige ondersteuning vir en beskerming van ontluikende produktiewe aktiwiteite, insluitend die beskerming van vryhandelsooreenkomste.
Die ander ingryping is ontwikkelingsgesteld, gegrond op maatskaplike doelstellings eerder as net winsgedrewe beleggings. Mnr. Jauch het voorgestel dat om strukturele verandering teweeg te bring, moet weggedoen word met Afrika se “enklawe ekonomie.”
Die arbeidsintensiewe en omgewingsvriendelike produksie moet stelselmatig bevorder word. Die plaaslike bronne moet in die streek geprosesseer word om die waardeketting plaaslik uit te brei.
Hy het voorgestel dat eienaarskapstrukture verander word om die ekonomiese demokrasie uit te brei deur onder meer korporasies en fabrieke wat deur werkers bestuur word.
“Daar moet na ’n solidariteitsekonomie beweeg word,” het hy beklemtoon.