
Die Isuzu-dubbelkajuitbakkie op sy rug terwyl noodhulppersoneel uit Okahandja aandag aan die beseerdes skenk.
‘n DRAMA wat hom Woensdagmiddag op die pad na Hochfeld afgespeel het, se held is ‘n pasopgeleide jongman in noodhulp wat wonderbaarlik uit die niet in ‘n verlate gebied verskyn het en manalleen sewe mense se lewens gered het wat in ‘n motorongeluk ernstig beseer is.
Naas sy noodhulpkissie wat binne oomblikke leeg was soos hy bloeding gestop het en beenbreke verbind het, moes hy die betrokke Woensdag vanaf die ongelukstoneel sowat 35 km vanaf Okahandja omdraai en 17 km terug aflê tot by die naaste waterpunt om die beseerdes wat uitgeput en dors was, met die lewensbelangrike vog te hulp te snel.

Mnr. Erastus Haulondjabi en sy noodhulpkas.
Die man wat oornag in ‘n held verander het, is niemand anders as mnr. Erastus Haulondjabi, ‘n veiligheidsbeampte by die Paaiekontrakteurmaatskappy (RCC), wat skaars ‘n maand gelede opleiding ondergaan het om noodhulp toe te kan pas. Hy was op pad na die plek waar RCC se veldwerkers hul kamp opgeslaan het om noodhulptoerusting aan hulle te gaan aflewer.
Op pad daarheen het hy afgekom op ‘n ongeluk waar al sewe insittendes in ‘n Isuzu-dubbelkajuitbakkie uit die wrak geslinger en rondom die voertuig gelê het. Mnr. Haulondjabi sê dat die beseerdes van wie die bestuurder ‘n gat in die kop gehad het en een van die vroue albei haar enkels gebreek het, omtrent ‘n halfuur daar gelê het voor hy sy verskyning op die toneel gemaak het.
Naas die noodhulp wat hy toegepas het, het mnr. Haulondjabi ook sy werkgewer in Windhoek geskakel wat op sy beurt die gesondheidowerheid op Okahandja van die voorval verwittig het. ‘n Ambulans het eers bykans twee uur later by die ongelukstoneel opgedaag en die beseerdes weggeneem.