1.10.2008 Harry Simon op sy knieë
DIE gevangenis is – soos die lewe – nie vir sissies nie. Selfs nie al was jy eens ’n wêreld-bokskampioen nie. In ’n verhaal wat mnr. Dawie van Rensburg van Walvisbaai net as een van opregte trane en berou kan bestempel, was die eens grote Harry “The Terminator” Simon twee Sondae gelede in ’n posisie waarin hy nie ’n enkele keer in sy roemryke loopbaan in die kryt was nie: op die knieë.
Volgens Dawie, wat al sowat vyf jaar namens die Lewende Water-gemeente van die Volle Evangeliese kerk die Woord aan gevangenes in die Walvisbaaise tronk bedien, het hy nie eens geweet dit is Harry wat op 21 September op uitnodiging na vore getree het om sy hart aan die Here uit te stort nie.
’n Ander gevangene het hom eers na dié belydenis gevra: “Pastoor, weet jy wie’s daai man?” Voor dit het groot Harry gekniel en met opregte trane in sy oë gesê hoe jammer hy is vir wat hy alles verkeerd gedoen het, vertel Dawie. Volgens hom het hy Simon hierna terug laat roep en lank en diep met hom gesels.
As Harry een ding in die tronk geleer het, is dit volgens Dawie dat die wêreldse dinge wat hy bereik het sy ondergang was. Dawie sê die bokslegende is nou vas oortuig om as hy sy vryheid terugkry, se hele lewe aan God oor te gee. Hy het ook ’n Bybel aan Simon gegee.
Dawie is egter gou om te benadruk dat die groot taak om ’n lewe om te swaai, maar nog net begin het. Volgens hom gebeur dit al te maklik dat gevangenes ’n maand of wat na hul vrylating maar weer die ou pad begin stap. Nietemin is hy vas oortuig dat Harry, soos in die kryt, die opregte wil het om ’n verskil te maak.
“Ons gaan dié pad saam stap,” het Dawie, wat komende Sondag weer vir Simon sal sien, gister plegtig aan Republikein beloof. Harry Simon dien twee jaar tronkstraf uit vir sy rol in ’n motorongeluk naby Langstrand in 2002 wat die lewens van drie Belgiese toeriste geëis het.
|