
Die jong mnr. Herman Kalondingo word deur sy suster, me. Sylvia Petrus, getroos by die suikeraanleg in Windhoek waar sy pa, die 39-jarige mnr. Paulus Kalondingo, gister grusaam in 'n fratsongeluk dood is. Die jong man en sy pa het saam by die aanleg gewerk. Mnr. Kalondingo het in een van die verpakkingsmasjiene geval en sy liggaam is deur 'n metaalwurm in die vervoerpyp verbrysel.
‘n GESIN van Windhoek is met die grudood van hul vader tydens ‘n nywerheidsongeluk by ‘n suikerfabriek in Windhoek uitmekaar geskeur. Die verminkte lyk van mnr. Paulus Kalondingo in ’n suikerverpakkingsaanleg in die Lafrenz- nywerheidsgebied van Windhoek moes uit masjinerie in die fabriek gesny word nadat hy grusaam tot sy einde gekom het.
Sy seun Herman het saam met hom in dieselfde fabriek gewerk en hy is huilend op die sypaadjie voor die aanleg aangetref nadat hy van die dood van sy vader in kennis gestel is. Mnr. Kalondingo het in een van die verpakkingsmasjiene geval en sy liggaam is deur ’n metaalwurm in ’n vervoerpyp, soortgelyk aan die meganisme van ’n ou vleismeul, verbrysel.
Lede van die stad se nooddienste was gister genoodsaak om die verminkte lyk van die oorledene uit die masjinerie te sny. Volgens Herman is produksie by die spesifieke verpakkingsmasjien vir die dag gestaak en was die oorledene en van sy kollegas besig om die masjinerie skoon te maak. Mnr. Kalondingo was besig om met ’n waterpyp die vloer rondom die masjien waarin melasse, water en suiker in grootmaat gemeng word, skoon te spuit.
Medewerkers het gesê na die skoonmaakproses afgehandel is, het hulle weer die masjien aangeskakel en het die mou van die oorledene se oorpak in die meganisme beland en hy is by die metaalwurm ingetrek. Sover vasgestel kon word, word melasse en suiker in grootmaat by ’n houer onder die spesifieke vloervlak in die masjien gelaai. ’n Metaalwurm in ’n staalpyp voer dan die mengsel vanuit die houer na die masjinerie waar bruinsuiker uiteindelik in sakke van verskillende groottes verpak word.
Volgens ‘n ander persoon wat na die voorval op die toneel was is die oorledene kop eerste by die vervoermeganisme ingetrek en is toe soos vleis in ’n vleismeul deur die staalwurm in die pyp afgedwing totdat net sy onderbene nog sigbaar was. Die bestuur van die verpakkingsaanleg was laat gistermiddag nie beskikbaar om kommentaar oor die tragiese voorval te lewer nie.
Familielede van die oorledene wat na die ongeluk voor die fabriek saamgedrom het, het sy naam aan Republikein verstrek. Sy seun Herman het gesê sy pa was 39 jaar oud en dat die oorledene 13 jaar lank by die onderneming werksaam was.