7.10.2008

Grootfontein loods ondersoek na sportbedrog

DIE bestuurskomitee van Grootfontein se munisipaliteit het Woensdag gesê stappe sal beslis teen enige oortreders gedoen word indien ’n ondersoek oor inligting in Republikein se besit bevestig dat die dorp onwettige spelers vir Saimsa se internasionale munisipale sportspele in Kimberley, Suid-Afrika, ingeskryf het.
Volgens die voorsitter van die bestuurskomitee, mnr. Mandume Kawana, is Dinsdagaand op ’n raadsvergadering besluit om ’n indringende speurtog na hierdie aantygings te loods.

“As hulle (die raad) enige wangedrag van watter aard ook ontdek, sal teen die skuldige individue opgetree word,” het hy in ’n nuusvrystelling gesê. Die vrystelling onderneem ook om die koerant oor die uitslae van die ondersoek in te lig.

Intussen het mnr. Muronga Haingura, hoof uitvoerende beampte van Walvisbaai, gesê ’n vergadering dieselfde aand daar kon geen bewyse vind dat hulle enige reëls oortree het nie. Volgens hom het Walvisbaai 49 spelers in Kimberley gehad, waarvan net vyf – binne die spele se regulasies – op korttermynkontrakte aangestel was en op die munisipaliteit se betaalstaat was.