5.03.2010 Grootfontein hou sleutel tot sindikaat se legkaart
DIE poppe gaan vandag op Grootfontein dans nadat die ondersoekspan na die bedrywighede van die beesdiefstalsindikaat wat die afgelope maande glo honderde beeste in die Otjozondjupa-streek gesteel het, op bewyse van grootskaalse ongerymdhede met die uitreik van vervoerpermitte vir die diere afgekom het.
Die verwagting is dat ten minste nog twee vermeende lede van die uitgebreide sindikaat teen vanaand agter tralies sal wees. Volgens inligting dui die jongste bewyse na bewering op grootskaalse bedrog met die uitreik van permitte sodat die beeste sonder agterdog in die amptelike bemarkingskanale opgeneem kon word.
Die moontlikheid dat mense omgekoop is om op hierdie wyse bedrog te pleeg, word ook ondersoek. Vandag se verwagte polisie-op noordtrede sal die getal verdagtes wat tot dusver in verband met die reeks beesdiefstalle in hegtenis geneem is, na nege verhoog.
Die deurbraak na wie agter die grootskaalse beesstelery op plase in die omgewings van Okahandja, Otjiwarongo en Kalkfeld sit, is drie weke gelede gemaak toe ’n vragmotor met 32 gesteelde beeste daarop by ’n padblokkade naby die Waterberg voorgekeer is.
|